Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Mooiste tandlose glimlag

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Henriette Lamprecht

’n Skilpad is ’n wonderlike ding. Moontlik nog slimmer ook as sy ander vierpotige vriende wat vinniger is as hy. Met sy tandlose streepmondglimlag, verrimpelde plooinek en dop om onder te skuil, is hy nie ’n skoonheid der diere nie, maar eintlik mooi van lelikgeit.

Die eerste skilpad op wie ek my hart verloor het, was vele jare gelede op ’n klein dorpie in die noorde van die land. ’n Baie getroue metgesel was hy nie. Die veld daarbuite was baie aanlokliker as ’n ogiesdraadhok met weivelde van vars slaaiblare en wortels. Een voordeel was egter dat spoed nie een van sy sterkpunte was nie.

Net ’n paar minute was nodig om hom weer in te haal en in sy hok te bêre. Daarna het verskeie liefdes gevolg met skilpaaie wat óf in die Fabels van La Fontainé óf in prentjieboeke my hart weer en weer gesteel en lessies vir selfs die ouer dae geleer het. Soos sy vriend die donkie, is Skillie ook die held in verskeie verhale en was hy die inspirasie vir staaltjies – van Tolla tot die Grimm-broers.

Op die akkerdorp, Stellenbosch, word weer deur ’n ander storieverteller vertel dat dar ’n soölogie-student was wat as deel van haar prakties ’n studie oor skilpaaie moes doen. Sy moes gereeld ’n park op die dorp besoek en tel hoeveel nuwelinge intussen bygekom het, hoeveel hulle gegroei het en hoeveel nuwe weivelde hulle gekies het.

Skielik op ’n dag kon sy geen skilpaaie vind nie. Nie eens dié wat sy met vroulike presiesheid met haar rooiste naellak op die dorp ’n kol gegee het nie. Die eindeksamen het vinnig nader gekom en nog was daar geen sig van ’n enkele skilpad nie. Die student besluit om vriende nader te roep en vra dat daar asseblief gebid word dat sy ’n skilpad sien. Al is dit nou ook net één.

Dit sal ook baie help as hy sommer na haar toe aangestap sou kom. ’n Week later stop sy weer haar fiets buite die park en begin met ’n swaar gemoed na haar “gekolde” vriende soek. Tevergeefs.

Met die terugstap na haar fiets toe, sien sy iemand anders op ’n fiets, een hand op die stuur en die ander triomfantlik in die lug. Haar vriendin het ’n skilpad gekry. 

“Hy het by jou fiets met ’n yslike glimlag vir jou gestaan en wag!”

Dit blyk toe dat sy neuspunt gebreek was en die prominente onderkaak wat uitgesteek het, het die indruk geskep dat hy sonder ophou van oor tot oor geglimlag het. Die soölogie-student het haar finale eksamen met vlieënde vaandels geslaag.

As jy weer ’n skilpad in jou tuin raakloop, kyk mooi. Hy glimlag van oor tot oor! – 7 Augustus 1996

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer