Annemarie du Toit
Annemarie du Toit

Moenie net inpas nie

Annemarie du Toit
Dis snaaks hoe maklik ons vergeet wie ons regtig is wanneer almal na ons kyk. Jy kan sterk, slim en uniek wees, maar sit jou tussen die regte groep mense, en skielik twyfel jy aan jouself.

Jy lag harder as wat jy wou, sê dinge wat nie jy is nie en maak keuses wat jy later aan jouself moet verduidelik. Dis nie altyd omdat jy swak is nie, dis omdat aanvaarding ’n verslawing is.

Ons wil almal êrens inpas. Dis menslik. Dis natuurlik om te wil hê mense moet jou verstaan en aanvaar. Dis maklik om te dink as jy anders voel, daar iets fout is met jou.

Maar dis gevaarlik wanneer jy begin dink jy moet kleiner wees, minder, of selfs iemand anders wees om by ander se prentjie in te pas. Jy begin jou eie stem ignoreer, jou drome onderdruk, net om seker te maak dat jy “veilig” in ’n groep voel.

En dit is moeilik, want niemand wil uitgesluit voel nie. Jy sien dit in die grappe waaroor jy lag, in die dinge wat jy doen net omdat almal anders dit doen, selfs al voel dit verkeerd.

Daar kom ’n tyd wanneer jy moet besluit: Gaan ek in die groep probeer inpas en my lig verdof, of gaan ek in my eie vel wees en my stem laat hoor? Dis nie altyd die “cool” keuse nie, maar dis die een wat jou vry laat voel.

Want eendag, wanneer die geraas stil raak en almal huis toe gaan, bly net een stem oor: Jou eie. En as jy haar lank genoeg ignoreer, raak sy sag. En later stil.

Dan besef jy dat jou geluk nie moet afhang van wie jou aanvaar nie. Jou selfrespek is meer werd as ’n glimlag wat net opduik omdat jy doen wat ander sê.

Om anders te wees, gaan nie om rebellie nie. Dis nie jou ego wat in die pad staan as jy jou eie pad kies nie. Dis respek vir jouself, vir jou tyd, vir jou vrede. Dis om te sê: “Nee, dit is nie wie ek is nie. Ja, ek gaan my eie besluite neem.” Selfs al voel dit ongemaklik. Al verstaan niemand anders dit nie. Al sê iemand jy is “te veel” of “anders” of “weird.” Dis hulle probleem, nie joune nie.

Groepsdruk is oral – in jou vriendekring, op sosiale media, by die skool, by die werk, selfs soms in jou familie – en dit laat jou voel jy is nie genoeg nie. Dit fluister dat jy moet doen wat ander sê om aanvaar te word. Maar aanvaarding wat jou laat vergeet wie jy is, is nie aanvaarding nie. Dis oordrag van ander se vrese, hul onsekerhede, hul idees van “goed genoeg”. Jy verdien beter.

Ek sê maar net dit is beter om alleen te staan as om tussen mense te sit wat jou aan jouself laat twyfel. Jou “tribe” sal jou kry. Hulle sal nie probeer om jou vuur te blus nie; hulle sal hand bysit en saam warm word.

Moenie jou lig verdof nie. Moenie jou drome klein maak nie. Moenie net inpas nie. Jou waarheid, jou stem, jou vreugde, dis wat tel.

En onthou: Die mense wat regtig vir jou omgee, sal jou nooit vra om kleiner te wees nie. Hulle sal jou sien, jy sal jouself sien, en alles anders sal in plek begin val.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-06-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer