Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Moedersdag

Ons het Sondag vir die tweede jaar in ’n ry die voorreg gehad om middagete by Spur te eet, vir Moedersdag.

Daar is min ander dae van die jaar dat ek al die Spur se besig gesien het. Vanjaar het ek die voorreg gehad om dit saam met beide my moeders te kon vier. Een van my twee moeders het ek “bygetrou” en een het my in die wêreld gebring.

Ek het my skoonma leer waardeer, spesifiek die laaste paar jaar, vir haar sagte, bedagsame ondersteuning. Sy dink verder as ek, sy beplan beter as ek en sy vul die gapings wat ek en my kapasiteit op ’n gereelde basis het.

Haar teenwoordigheid in my lewe is ’n ongelooflike seën vir ons huishouding en sy het my genoeg leer vertrou in die amper tien jaar wat ons familie is, dat sy my intussen die kans begin gun het om te leer hoe om ook vir haar goed te wees.

Sy is stylvol en lyk altyd pragtig. Haar selfbeheersing rondom kos en haar skatting van goeie porsiegroottes is vir my ’n voorbeeld.

Ek het ook die laaste jaar haar sagte sy leer ken. ’n Skouer om mee saam te huil wanneer ons vir sussie mis. Sonder my eie ma wat om die draai is, het ek hierdie laaste jaar my skoonma se vroulike medelye opreg leer waardeer. My skoonma is versigtig, al haar planne is goed deurdink en sy is nooit impulsief nie.

My eie ma is ’n redelike teenstelling van my skoonma. Sy is ’n kleurvolle warrelwind met meer idees as tyd om hulle uit te voer. Sy het die meeste dae meer energie as wat ek het.

Dis lekker om sedert haar aftrede die voorreg te kan hê om meer tyd saam met haar deur te bring. My ma het vir die meeste van die tyd wat ek by haar aan huis was ’n besigheid bestuur.

Sy is kreatief, innoverend en kon nog altyd iets wonderliks uit amper niks maak nie. My ma het my geleer hoe waardevol ’n positiewe ingesteldheid in die lewe is. En dat harde werk jou ver in die lewe bring.

’n Vrou van vele talente, iemand wat nie vir ’n uitdaging skrik nie. Inteendeel ek dink my ma skrik vir niks in hierdie lewe nie.

Sy het my geleer geen uitdaging is onoorkombaar nie. Dat ’n mens altyd ’n manier kan vind om ’n moeilike situasie op te los as jy kalm bly en jou kop gebruik.

Wat hierdie twee vroue in gemeen het, is hul tyd vir hul medemens. Tyd vir die eensames, die wat nie iemand het om vir hulle op te staan nie. Tyd vir die oues.

Mag ek eendag in hul voetspore volg. Ek dank die Here vir hierdie twee wonderlike vroue in my lewe.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-07-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer