Moeder Natuur wenend op haar knieë
Dit was aand en dit was môre, die hoeveelste eeu.
Dog verstommend hoe die mensdom nog nie hul energie en toewyding na ons hoogs beskadigde planeet verskuif het nie.
Hoe toevallig dat ’n negatiewe karaktertrek in die woord “MENSDOM” verskyn.
’n Dom, dwaas en dwars spesie wat dommer met modernisering geword het.
Terwyl ons kef oor materiële aanwins, magdom kerke en politiek, lê Moeder Natuur in pyn en puin. Alles deur die mensdom se toedoen.
Hoeveel jare terug is ons bewus van globale verwarming? Dit was die groot alarm oor ons beskadigde aarde, maar nog steeds het ons siende blind mense. Ek het gehoop teen dié tyd sou die opvoedingsisteem natuurkunde as skoolvak aangepas het met intensiewe insae tot die hernuwing/herstel van ons planeet.
Klein begin soos groentetuintjies per skool waar praktiese lesse kon geskied; blomtuine om die belangrikheid van bye te verskerp – die onwrikbare ketting om ons voedsel te produseer.
Terloops, is daar nog iewers geskooldes wat nie die onskatbare waarde van die by in ons voedselketting verstaan nie?
Al wat mens hoor is: “Maak dood, roei hulle uit!”
Ons lewenslyn gaan kwyn as bye vandag uitgeroei word; Die karnivoor-mense reken seker die by is belangrik vir vegetariërs.
Aikôna boet, die voedsel van die einste bees begin by daai klein bytjie. Hulle doen meer as net om heuning te produseer, hulle is die planeet se “tiny miracle workers”.
Ek het onlangs ’n prosagedig gedoen op “wat as Moeder Natuur staak”.
Hier is my vereenvoudige weergawe:
“Wat as Moeder Natuur se hart verklip, haar traanriviere bitter vrug uit die aardkors baar?
Wat as haar asem wraaksugtig wrang winde blaas oor flora, fauna en mens?
Wat as haar hande meer wurg dan streel? As haar eens warm boesem verkil van toevlugsoord na hel?
Wat as haar magtige tong verswaard wat eens net salwing kon spreek?”
My aardgenote wat as ons Moeder verhard en ons lewend dood in haar bitter buik agter slot en grendel opsluit met geen onderhandeling, geen parool?
Maar sy’s ’n Moeder; ’n Gods geskenk aan al wat leef en beef. Van mens, boom, bees tot ’n mier.
Sy doen haar hoogs heilige diens nederig volgens haar Maker se perfekte plan.
Sy vergewe na bitter bloedtrane as ons met spykerskoene oor haar hart trap.
Sy sus ons snags tot ’n soet slaap na ons daaglikse mannewales; ons onversadigde honger soeke na wêreldskatte.
Sy maak ons smôrens wakker met voëlgesang en gee ons ’n maagdelike bladsy in ons lewensboek; die pen vol ink in ons hande.
Sy streel ons verwarde siele en fluister deurgaans hoop in die doofste oor.
Sy trek ons bitter liplyne tot ’n ysbreek glimlag.
Sy probeer onverpoosd die sluiers van ons siende blinde oë wegtrek en bied ons ’n ongeëwenaarde kunsgalery, kostevry!
Perfekte kuns van branders wat baldadig breek met sout sproeireën; verruklike fors berghange en heuwels; verfrissende watervalle; dansende bome in die lentebries; die gefluit van ’n variasie geveerdes; ’n kleurvolle blommetapyt waaroor skoenlappers kinderlik ballet en bye dorstig teug. Vrugtebome vol geur en kleur.
Sy bied ons ’n son wat skyn sonder onderskeid – van paleis, plaas tot pondok.
Saans gee sy ons kalmerend maan-en-sterre-lanterns met veraf krieksimfonie haar unieke “lullaby”.
Sy is ’n Goddelike Moeder met helende hande. Haar eindelose gebede en pleidooi van geloof, liefde en vrede, want dis al wat haar hart begeer.
Kan ons vandag uit ons koma wakker word en nederig voor haar buig met ’n hart van berou? ’n Belofte van kinderlike gehoorsaamheid en respek?
Jy nodig geen kerk, geen politikus, geen bestuurder. Net jy en jou beterwete.
Kan ons haar innig omhels en fluister: “Dankie koningin-moeder vir jou wye hart waardeur ek lewenslank kan loop sonder steurende padwerke; ’n wandellaan van geil groen gras wat my moeë voete sielvol soen en seën. Ek gáán deelword van u herstel”
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie