Meer as net 90 minute
Ek hou van flieks uit enige genre, solank die storielyn reguit is. Daar kan gerus ’n kinkel of twee wees, maar die einde moet klop. Selfs al ry die held en heldin hand aan hand die sonsondergang tegemoet, dit maak darem sin.
Ek kan nie stories met oop eindes verdra waar jy self moet raai wat gebeur het nie.
Die meeste flieks duur ’n uur en ’n half tot twee ure, sommige twee en ’n half uur. In daardie kort tydperk gebeur daar baie: ’n voorval, die gevolge daarvan, lewens wat omgekeer word, probleme en oplossings.
Ek hou veral van flieks waarin mense beter mense word en gesinne heel word. Waar die slagoffer die oorwinnaar word en die persoon wat geboelie word, teen die boelie opstaan.
Waar die “underdog”, wat almal lank reeds afgeskryf het, sterker word en uit die as verrys. Jy kyk dit en dink: Dis hoe ek wil wees as ek groot is.
Wanneer iemand sê dat jy te veel flieks kyk, steek daar wel ’n mate van waarheid in. Die transformasies, hoopvolle eindes en pragtige verhoudings inspireer en bemoedig ons.
Die probleem is net dat alles binne 90 minute gebeur. Om te verwag die werklike lewe kan so vinnig verander, is heeltemal onrealisties.
Die fliekgesin baklei nooit nie en alles is pragtig. Maar bring ’n halwe dag saam met daardie gesin deur en dit sal niks soos die fliek lyk nie. Skielik sien jy die regte mense, die regte probleme, die regte lewe. Hulle sê die lewe gebeur terwyl jy planne maak. Wel, dit gebeur ook terwyl jy ’n fliek kyk.
Dieselfde geld vir ’n boek. Die omslag lyk dalk pragtig, maar wanneer jy begin lees, word dit meer realisties, want lees vat langer. ’n Mooi prentjie op die voorblad beteken nie die boek is goed nie. En dit bly iets wat iemand geskryf het, nie die regte lewe nie.
Die regte lewe het baie meer lae en nuanses. Meer pyn, meer seer, meer groei, meer wrywing. Agter elke mooi uitkoms lê tyd en moeite – as daardie uitkoms ooit so perfek is soos wat dit voorkom.
Dit bring my by onsself, ons gesinne en ander mense. Ons is so vinnig om iemand te oordeel net deur na hulle te kyk. Ons ken hulle nie eens nie. Ons hoor hoe hulle die telefoon antwoord, of ons vang hulle op ’n slegte dag, en klaar het ons ons oordeel oor hulle hele lewe gevel. Wanneer ons tyd saam met hulle deurbring, besef ons hulle is glad nie die persoon wat ons gedink het hulle is nie.
Ja, eerste indrukke is blywend. Daarom sit ons graag ons beste voet voor. Dis die ideaal. Maar jy kan jou beste voet voorsit en tog juis daardie oggend met die verkeerde voet uit die bed geklim het.
Ons moet regverdig wees en dit tyd gee. Kyk hoe iemand verskillende uitdagings op verskillende tye hanteer voordat jy ’n gevolgtrekking maak. Om iemand se hele karakter op grond van een kort oomblik met ’n breë kwas te verf, is onregverdig – teenoor daardie persoon en teenoor jouself. Dit kan groot skade aanrig.
Jesus sê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” Vrugte groei nie oornag nie. Sommige verrot, goggas vreet aan ander, sommige val af en ander word gepluk voordat hulle ryp is. Dit neem tyd vir vrugte om ryp te word.
Moenie te vinnig oordeel nie en moenie ’n eerste indruk te lank laat bly nie – die goeie én die slegte. Mense kan oortuigend voorgee dat hulle die wonderlikste mense is. Gee dit ’n bietjie tyd en jy sal gou sien hulle is nie so fantasties nie.
Kom ons kyk na mense in hul geheel, kyk mooi, en gee mekaar en onsself tyd. As ons wil groei, gaan dit nie in 90 minute gebeur nie. Die lewe is soveel meer as 90 minute op die TV of die grootskerm.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie