Meer as 40 jaar se gedans en rumoer
“Kom wys vir aunty jou nuwe steps, het sy liggies in ’n plak (’n term wat ons in Khomasdal gebruik vir die eerste fase van beskaafde dronkenskap) die saadjies gesaai vir ’n rebelse leefstyl sonder brieke terwyl die Lieberstein vanaf agter ’n gordyntjie in ’n blikbeker geskink was, want ons drink nie voor die kinders nie!
Ons het maar net altyd gewonder waar moeder se plesierige vrygewigheid vandaan kom terwyl die klanke van Rick Astley en Kylie Minogue al harder in ons ore geklink het.
“Nanna (soos aunty na ’n paar ligte en stylvolle slukkies na moeder verwys het), kyk tog!”
En dit was die geboorte van ’n ritmiese lewe en ’n lewenslange verslawing aan die kristalhelder klanke van luilekker diskomusiek (ook getiteld Old Skool).
’n Paar jaar later met die aankoms van ’n klomp onnodige hormone, het ek weer ’n draai gaan stap in die ou lokasie en tot my verbasing ontdek hoe die ritme gehandhaaf word in ’n matinee (middagdanssessie) oorkant die poskantoor. Dit was my tweede verslawing en om die las ligter te maak, het ek ’n paar onskuldige maters saam na ’n volgende geleentheid genooi.
En daar was ook vir die eerste keer kennis met alkohol gemaak en sy confidence boosting-karakter wat jou genoeg stoom gegee het om ’n tienerdame te vra om volgens die maat van een of ander tranetrekker stadig te dans as hulle die ligte afskakel en die vertrek in donkerte gehul word.
As jy egter nie betyds ’n dame kon vra om te blues nie, het jy uit desperaatheid jou kans gewaag met enige dame wat nie onmiddellik nie, maar ná ’n paar groot slukke nogal oulik en belowend voorkom.
You’ll never stop me from loving you. . . it doesn’t really matter what you put me through. . .
“Christene lewe volgens ’n ander ritme en roete!” het ’n wyse oompie eendag gesê en ek het deeglik geskrik toe ek my eerste ervaring gehad het van Old Skool-gospelklanke en hoe daar lyf geskud word, nie net oor die lekker geluide van liedjies soos Shackles nie (Priscilla Shirer is deesdae ’n voltydse prediker), maar ook ander gesange…
Give what you give. . . give it unto the Lord, unto the Lord, unto the Lord. . . hou die hande op tot die beat stop, hou die hande op tot die beat stop. . .
By smokkelhuise in ’n bepaalde woonbuurt wat ook na verwys word as ’n yaadt en wat afgelei word van die woord yard bv. Pokkies se yaadt) word alles verkoop, drank, dagga, kos en ’n dubieuse variant van Grand Pa-poeiers, het ek weer kennis met legendariese Old Skool-musiek gemaak.
Die een oomblik het jy dronkverdriet ervaar oor ’n Judy Boucher-treffer en die volgende oomblik huppel jy opgewonde rond op dieselfde treffer wat met die vindingrykheid van een of ander Wes-Kaapse klonkie na vore gebring is – die yaadt remix!
En daar was omtrent gerumoer met danse soos die Apache waar jy jou verbeel jy dans om ’n vuur vir die geeste van jou voorvaders.
Vyf jaar op kampus was ’n blur soos die Engelsman sê, maar wat ek kan onthou, is die vrolikheid en blydskap wat gepaard gegaan het met elke wyntoer. Daar was gedurig ’n paar Afrikaanse liedjies gesing veral op die terugkeer. Soms het die drywer ook ’n draai gaan maak by ’n smokkelhuis in Kayamandi waar ons met alle vrymoedigheid en vreugde op die maat van Mandoza se Nkalakatha heupe ontwrig het.
’n Treinrit na Bloemfontein in my vierde jaar vir een of ander rugbywedstryd het darem ook vreedsaam en dramavry verloop met een van die waens wat in ’n danslokaal omskep is – nodeloos om tê sê die ding het behoorlik geruk en ’n stukkie Old Skool was deel van die reis!
Huisdanse en pub crawls was ’n ander belewenis waar ek moes leer sokkie en ek het ongelukkig tot vandag toe nie ’n genoegsame beskrywing vir wat presies dit behels nie. Dit is amper soos ’n stukkie Kleurling-jazz (handjies vashou en in die rondte swaai!), maar jy kan ongelukkig nie jazz op Summer of 69 of Roxette se Joyride nie – nie in nugterskap nie!
En ná al die lewe se nukke en drukke is daar een blywende boodskap. Carpe diem – gryp die dag m.a.w. vier elke liewe oomblik sonder kennisgewing en met opregte dankbaarheid en hou aan om te dans en rumoer.
Jy het net een lewe!
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie