Maak tyd jou vriend – leef jou nalatenskap
Marlise Izaaks – Wat as jy nie net jou nalatenskap eendag kan agterlaat nie, maar dit nou leef?
Ek was nog altyd baie gesteld op tyd en het altyd die tyd bereken wanneer ons op reis gaan, soos hoe laat ons ons bestemming gaan bereik.
En wanneer ek take het om af te handel, hetsy persoonlik of amptelik, het ek altyd uitgewerk hoeveel tyd ek daaraan gaan bestee voor ek na die volgende item beweeg. Nietemin, tyd is vir my belangrik, want hoewel daar ’n tyd vir alles is, is dit geleende tyd. Jy dink dit is ’n cliche, maar dit bly tog relevant.
’n Week terug groet ons ons eie Johnny Davids. Die joernalis in my wou dit nie glo nie, want daar was nog geen amptelike skrywe of verklaring uitgereik nie.
“Kry eers klaring by sy familie voor julle dit bekend maak,” vra ek my omroeper-vriendin.
Dit kan mos nie wees nie, nee, ek wil dit nie glo nie. ’n Paar minute daarna kom die bevestiging in ’n WhatsApp-boodskap: ‘Dit is met diepe hartseer en swaar harte dat ons die afsterwe van my man en my kinders se pa, Johnny Davids, aankondig.’ (Liezel Swarts Davids). Op geleende tyd.
Sewe dae voor Johnny se tyding, het my eerste jeugleier, boetie James Malgas sy tydelike adres met die ewige verwissel. Nes Johnny het hy diep spore in Namibië en Suid-Afrika gelaat.
Maar dis nie sy talle voorsittersposisies wat my so aangryp nie. Hy het ’n passie vir die jeug gehad en sy nalatenskap was sigbaar in die mense wat hy gementor het. En nes boetie James, was Johnny se nalatenskap mooi en kleurvol, maar dit is dit wat hy in mense se harte agterlaat, wat die mooiste is. Albei die twee mans, met twee dekades se leeftyd tussen mekaar, het nie net ’n nalatenskap agtergelaat nie, maar dit met passie geleef, op geleende tyd.
Ek hoef nie ver te kyk nie, in my eie huis sien ek die passievolle nalatenskap wat my man Brian elke dag uitleef. Die drome wat hy in ander se harte skep en die geskenke van hoop en geleenthede wat hy aan ander bied.
Jou affêres is dalk mooi agtermekaar en in plek, maar wat is die geestelike nalatenskap wat jy tot dusver geleef het en eendag agterlaat?
Hoe jy mense laat voel, dit waaroor moeder Teresa gepraat het. Wanneer iemand uit jou geselskap wegstap, wat onthou hy of sy? Sou die persoon nooit weer met jou te doene wou hê nie, of juis voel die tyd was te kort en uitsien na nog ’n ontmoeting? Laat jy mense beter en gelukkiger voel?
Wat deponeer jy in ander se harte terwyl jy leef? Weelde en rykdom kan vir diegene waarvoor jy dit opbou baie beteken, maar wat meer is, is die wysheid en kennis oor hoe om daardie weelde te bestuur.
Goeie beginsels en geestelike wysheid is goud werd. Wat egter meer is, is dat jy self daardie beginsels uitleef en geestelike wysheid jou die rigting wys op jou lewenspad.
My manier van tyd bereken, het beslis sy voordele, dis hoe ek sake op my lysie kan afmerk. Aan die ander kant het dit beteken dat ek in die toekoms bly leef en nie in die nou nie.
Ek kan niks aan die verlede doen nie en ek het ook nie mag oor die toekoms nie, maar ek kan nou leef. Ek het lank reeds geleer om tyd my vriend te maak.
Die oggend te groet in dankbaarheid, die middag se hitte af te skud en nie te sluimer nie en in die aand te reflekteer. Want die tyd is nou, die wêreld wag vir jou nalatenskap.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie