No Image Caption

Leierskap vir Leke

Leierskap in 3 woorde
Mandy Rittmann
“Die betekenis van die lewe is om jou gawe te ontdek. Die doel van die lewe is om dit weg te gee.”

– David Viscott, psigiater en skrywer.

Groei: iets wat vergroot in grootte, hoeveelheid, vermoëns of volwassenheid. In leierskap kan daar nie genoeg klem op ‘groei’ geplaas word nie. Dis ’n tweeledige proses tussen leiers en navolgers waaruit beide voordeel trek. Aan die een kant word die beste leiers gekenmerk deur hul gawe om hul volgelinge tot hoër hoogtes te lei; aan die ander kant verstaan leiers dat hulle sélf voortdurend in ’n transformasie proses is. Dis die kern van leierskap in drie woorde: help volgelinge groei.

Gewoonlik word leiers in ’n posisie van verantwoordelikheid aangestel met ’n konkrete mandaat wat onder meer behels dat groei plaasvind – hetsy ’n meer winsgewende maatskappy, ’n groter kliënte basis of verhoogde handelsmerk lojaliteit. Ook in sportkodes is leiers verantwoordelik vir atlete se fisieke en geestelike groei wat uiteindelik in meer uitdagende mededinging en groter sukses omskep word. Die proses van groei in leierskap is so onlosmaaklik van mekaar soos seekoeie van die Zambezi.

Die kruks van leierskap is om ander se gedrag en waardes te beïnvloed, deur ’n proses van konneksie, motivering en geloofwaardigheid. Goeie leiers onttrek die innerlike motivering van hul navolgers om doelwitte te bereik – dis die sement in die boustene van sukses. Saam met innerlike motivering stel leiers gepaste en stelselmatige uitdagings wat navolgers bemagtig en ontwikkel. Só proses is normaalweg meer tydsaam en frustrerend as wat dit maklik is, want groei kan selde sonder inspanning en pyn plaasvind. Geen virtuoos het nog ooit net ’n musiekinstrument opgetel en ’n meesterstuk opgetower nie.

Hierdie ‘groei-ingesteldheid’ beteken leiers sien uitdagings nie as mislukkings nie, maar as geleenthede. Hulle glo dat vaardighede deur oefening, terugvoer en volharding verbeter kan word. En sou dinge verkeerd loop, tuimel die kaarthuis nie vloer toe nie, maar word dit herbou met die voordeel van nuwe insigte. Waar leierskap in groei gefokus is, is daar nie ruimte vir die ego nie. Aan die teenoorgestelde punt van ’n groei-ingesteldheid, is die ‘vasgestelde ingesteldheid’ waar mense verandering soos ’n virus systap omdat dit hul ego bedreig.

Die groei-ingesteldheid begin wanneer beide leiers en volgelinge self verantwoordelikheid vir hul ontwikkeling aanvaar. Vir leiers is dié ingesteldheid vervat in die voorbeeld wat hulle self stel – hulle meet navolgers slegs aan die standaarde waaraan hulself voldoen. Hierdie leiers rig volgelinge se gedrag in die rigting van ’n inspirerende visie, terwyl hulle navolgers bemagtig om te innoveer en te gedy. Deur ’n inspirerende visie, bou hulle vertroue en samewerking; en waar volgelinge blom, word die grond met erkenning en belonings bemes.

Die beste leiers verstaan dat mens nie ’n kers kan aansteek sonder om nie self ook in die lig te staan nie. Leiers vat hande met navolgers en loop die pad saam. Dis ’n pad sonder ego en einde want volmaakte groei kan nie ingehaal word nie. Dis ’n pad waar navolgers kan uitval en nuwes kan inskakel, maar die pad self kan nie deurgetrap word nie. Die betekenis van die lewe lê daarin om die gawe van leierskap te gebruik, en dit weg te gee aan die leiers van die toekoms.

#LeierskapSleutel: Help navolgers groei, selfs net één.

* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer