Annemarie Schullenbach
Annemarie Schullenbach

Leierskap vir Leke

Mandy Rittmann
Niemand is nié ’n leier nie

“Ken jouself, groei jouself.” – John Maxwell, leierskapskenner en spreker.

Leiers – witboordjie base wat deur kritieke besluite stoomroller, en salarisse groter as die Hoba meteoriet verdien. Hul ervaring en insig is ongekend en wanneer hul monde oopgaan, gaan die res van die volgelinge s’n toe in afwagting vir die grootsheid van hul kennis. Hooggeleerd of hooggeplaas – hoë bome wat tornadoes kan weerstaan.

Of nie? Wat van die leiers wat níé om korporatiewe tafels boer nie; dié wat net so min vergoeding as erkenning ontvang? Dié wat graad-loos geleerd is, wie se opinies nooit gevra word nie, en wie se name nooit in ’n dagblad sal verskyn nie? Die meeste mense sal jou waarskynlik sprakeloos aanstaar as jy hulle sou vra of hulle leiers op enige gebied is. Nie almal beskou hulself as leiers nie, en min word betaal om ’n leierskapposisie in te neem. Tog verdien die meeste mense op een of ander wyse die eretitel, bloot omdat jy:

Invloed het. Wanneer jou optrede of besluite ander se aksies en gedrag beïnvloed, is jy ’n leier. Jy word gevolg deur ’n groep mense wat dieselfde uitkoms as jy nastreef. Jy bepaal die waardes, grense en roetines binne ’n spesifieke konteks. ’n Voorbeeld hiervan is ouers wat gesinslede in ’n huishouding moet bestuur tot elkeen se voordeel.

Met ander saamwerk om ’n doel te bereik. Leiers stel ’n voorbeeld én ’n doelwit, en kry ander om in ’n spesifieke rigting te gaan. Hulle hanteer onsekerheid en neem besluite, selfs wanneer voldoende inligting nie beskikbaar is nie. ’n Werkgewer wat ’n huishoudster in diens neem, is ’n leier. So ook is ’n juffrou in ’n klaskamer of Sondagskool vol jong, afwagtende spruite.

’n Mening het wat iemand kan laat blom of laat breek. Wanneer jou woorde kragtig genoeg is om ’n ander ’n onherroeplike rigting te laat inslaan, is jy ’n leier. ’n Leier is iemand wat outoriteit en empatie kan balanseer – nie uit posisie van mag nie, maar uit ’n gedeelde begeerte na ’n blinker toekoms. Dokters, sportafrigters of joernaliste is leiers.

Ander dien. Leiers spandeer tyd om seker te maak ander groei en ontwikkel, selfs al ontvang hulle self geen loon nie. In die proses van ander opbou, groei die persoon self in presies die mate waarna John Maxwell verwys. ’n Voorbeeld is ’n jeugberader of ’n welwillendheidswerker, wie se opofferings ’n impak maak op ’n siel wat andersins verlore sou gaan.

Ander versterk. Leiers dra ’n verantwoordelikheid wat hulle nie pasella kan weggee nie, al wil hulle. Deur hulle gedrag inspireer en bemoedig hulle ander, en fokus op ’n uitkoms waarvoor hulle moontlik self nie reg is nie. ’n Volwasse kind wat na bejaarde ouers omsien, is só leier.

In jouself glo. Selfs in die afwesigheid van ’n ander mens, besef jy dat jou keuses en aksies ander in die samelewing beïnvloed. Jy kies om eerste jousélf te lei uit ’n plek van opregtheid, verantwoordelikheid, dissipline en doelgerigtheid. Jou blote bestaan, om respek en eerbied in ’n samelewing na te streef, maak van jou ’n leier.

Of jy nou jou kleuters of tieners by die huis, of ’n koor vir die volgende talentkompetisie, lei; jóú voorbeeld en woorde is magtig genoeg om iemand anders se lewe onomwonde te verander. Dis onsigbare leierskap wat ’n onsigbare impak vassement. Dis individuele leierskap waar jý jou eie model is – sonder titel of salaris.

* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer