No Image Caption

Leierskap vir leke – Wat navolgers jou nie sê nie

“Om op leiers te fokus ten koste van navolgers, word op eie risiko gedoen. Laasgenoemde is in alle opsigte net so belangrik soos die eersgenoemde.” – Barbara Kellerman, leierskapskenner en teoretikus (Aanhaling is vry vertaal.)

Leiers, spesifiek bestuurders in die werksomgewing, het gewoonlik één taak: Om doelwitte te bereik wat ’n organisasie laat groei. Bestuurders kan dié doelwitte nie alleen bereik nie en is afhanklik van ’n span navolgers, naamlik werknemers.

Terwyl bestuurders hul energie in hul taak en navolgers belê, is daar ook ’n mate van vertroue wat aan die volgelinge oorgedra word.

Volgens Barbara Kellerman (2008) is die beste volgelinge diegene wat toegewyd en passievol oor hul motiverings is. Hulle is gretig, energiek en tree oortuigend op – of dit nou ten gunste of in teenstand van die leier is.

Selfs die beste volgelinge sal iewers in ’n stadium besluit dat stilte die beste antwoord is. Dis in hierdie stilte waar leiers hul volgelinge maak of breek. Dis hier waar selfs die mees getroue en toegewyde werknemer ’n emosionele lyn trek en doelbewus “uitklok”. Dis in hierdie stilte waar leiers juis dink dat hulle suksesvol gekommunikeer het, maar waar ’n navolger hul radar afgeskakel het.

Volgelinge bly stil, want:

– Hul grense is oorskry. ’n Leier wat ’n werknemer se waardes bevraagteken, sal dadelik op die verdediging gaan. Leiers wil meestal nie werknemers se verduidelikings aanhoor nie, of beskryf volgelinge as “defensief”.

– Kritiek is lankal nie meer konstruktief nie. Wanneer ’n werknemer gereelde kritiek kry, kan hulle ook besluit om nie meer hul menings te lug nie. Nie net omdat hulle nie meer die voortdurende kritiek wil verduur nie, maar omdat hulle weet dat hul menings in elk geval geïgnoreer sal word.

– Hulle eerste doelwit is om brood op die tafel te sit. Finansiële oorlewing weeg swaarder as enige organisasie se doelwitte. Baie werknemers aanvaar swak leierskapsgedrag omdat hulle nie persoonlike alternatiewe het nie. Dis veel makliker om “ja en amen” te sê wanneer jy weet daar wag nog ’n salaristjek op jou. Die negatiewe sy van die saak is dat jy ’n werknemer het wat waarskynlik die leier “bystaan”, terwyl die persoon in werklikheid net nog ’n gees by ’n doodskis is.

– Hulle is gefokus op hul eie psigiese gesondheid. Geestelike gesondheid het oor die afgelope dekade meer in die hoofstroom verskyn en is minder in die stigma-doofpot gestop. Werknemers beskik deesdae oor meer insig en psigiese hulpmiddels wat hulle toelaat om toksiese leiers te erken en te vermy.

– Mikrobestuurders laat geen ruimte vir meningsverskille nie. Waar daar meer kritiek as bemagtiging is, sal navolgers hul inisiatief en moeite onttrek. Inteendeel, sodanige werknemers sal die basiese doen en dit dan aan die mikrobestuurder oorlaat om te voltooi omdat hulle dit in elk geval nie “reg” sal doen nie.

Leiers moet besef en begryp dat hulle ’n emosionele mag oor werknemers het – naamlik die mag om oor ’n werknemer se toekoms te besluit. Werknemers weet dit en doen wat hulle móet doen vir oorlewing (wat moontlik gekompliseer word deur finansiele, fisieke of geestelike uitdagings).

Leiers moet hulsélf afvra of volgelinge se stiltes instemming of afskakeling is. Indien nie, gaan leiers sit met ingeklokte teenwoordigheid, maar uitgeklokte betrokkenheid.

* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer