Leierskap vir leke – Wanneer leierskap talent troef
“Talent wen die wedstryd, maar ’n goeie leier beskerm die kultuur van die sport.” – Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur van sport by Universiteit Stellenbosch
Vir sowat 15 minute het 67 000 sokkeraanhangers in ’n stadion in Rabat, Marokko, en miljoene kykers van televisie- en aanlyn uitsendings, hul asems opgehou.
Dit was laat in die onlangse Afcon-eindstryd toe die skeidsregter Senegal se doel afkeur en op grond van ’n video-assistent-skeidsregter ’n strafdoel aan Morokko toeken. Dit is toe waar die eiers uit die nes val – in ’n vreemde wending, besluit die Senegalese spelers om van die veld te stap. Chaos – spelers, skeidsregters, afrigters en aanhangers – almal in ’n warboel van emosie en verwarring vasgevang.
Midde dié drama is ’n legende gevestig. Veteraanspeler, Sadio Mané, het verby die emosionele ineenstorting gekyk. Voor hom was ’n groep spelers wat onder geweldige druk ’n oomblik van ‘onreg’ beleef het, met hul emosionele regulering aan skerwe.
Die uitbarsting van frustrasie het waarskynlik reeds vroeër al ’n aanloop agter die skerms gehad, terwyl die skare van bykans 70 000 die intensiteit van die situasie nog verder verhoog het.
Met sy eie emosies onder beheer en ’n begrip vir die groter prentjie, het Mané sy ervaring en invloed gebruik om die spelers terug op die veld te kry sodat die wedstryd kon voortgaan. Hy het hulle kalm gehelp om weer op die doel (letterlik en figuurlik) te fokus, naamlik om te wén. Binne ’n kwessie van minute het Mané verhinder dat die situasie verder hand uitruk.
Al die faktore wat saamgewerk het tot die emosionele gedrag van die Senegalese spelers, was waarskynlik nie hulle skuld alleen nie, maar tog het hul optrede ’n groot invloed óp en ván die veld gehad.
Spelers, wat dikwels self ook sterre op sosiale media is, het ’n groot verantwoordelikheid teenoor hul aanhangers én die sport in geheel. Hul elke daad word onder die sosialemediasoeklig vergroot, wat dikwels die druk en angs van spelers laat toeneem. Per slot van rekening, die spelers is die handelsmerk van die sport en die verteenwoordigers van die borge.
Groenewald reken dat internasionale sportsterre meer vaardighede in emosionele bestuur, asook media-opleiding, moet ontvang om druk soos hierdie te hanteer. Sy reken dat die fokus op tegniese en fiksheidselemente in sportopleiding dié aspek van emosionele intelligensie afskeep.
Mané word gehuldig as die man wat nie net ’n ambassadeur vir sy land was nie, maar ook vir Afrika-sokker. Sy reputasie, nog vóór die Afcon-eindstryd, was reeds een van nederigheid en eenvoud, wat sy assosiasie met sy aanhangers soos min ander sterre versterk.
Wat hom bo ander laat uitrys het, was wat hy gedoen het wanneer hy nié op die veld was nie. Buiten sy betekenisvolle liefdadigheidswerk, is Mané se fokus nie om net as ’n fantastiese sokkerspeler bekend te staan nie, maar as ’n fantastiese mens.
Terwyl die Senegalese spelers se emosionele reaksie hulle tot swak sportmanskap gedryf het, was dit Mané se ingebore leierskap wat die wedstryd gered en eindelik die beker aan Senegal besorg het.
#LeierskapSleutel: Leierskap is nie net wat jy óp die veld, te midde van ’n krisis, doen nie, maar ook wég van die veld.
– Artikel gebaseer op ’n onderhoud met Groenewald op Radio Sonder Grense; en die aanlyn nuuskanaal, The World is One News (WION).
* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsveld.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie