Leierskap vir leke – Soutpilaarleiers

Leierskap vir leke
Leierskap vir leke
Sanet Pearson

“Leiers wat stagneer en werknemers wat dink hulle hoef nie aan te pas nie, sal hulself binnekort in ’n onomkeerbare nadelige situasie bevind.” – K. Schipperheijn, skrywer en konsultant 

 

Lot se vrou. . . die naamlose soutpilaar wat ons daaraan herinner dat terugkyk na die verlede jou voor ’n brandende stad vaskeer, terwyl ander vorentoe gaan. Dis hierdie soutpilaarleiers wat nie aanpas nie en, soos sout, in die grond wegspoel. 

K. Schipperheijn skryf in haar boek, Learning Mindset, oor die kuns om menslike vaardighede en tegnologie te kombineer in omgewings wat sneller verander as wat mens kan aanpas. 

Aanpassing is egter nie onmoontlik nie, maar vereis beide doeltreffende tydsbestuur en die identifisering van werknemers wat kan ‘evolueer’. Midde dié volgeling-leier-verhouding is vertroue – waarsonder daar geen leerproses, groei of transformasie is nie. Om dinge ingewikkeld te maak, stel moderne tegnologie vereistes wat voorheen ondenkbaar was. 

Hoe verhoed ons dus dat ons nie in soutpilaarleiers verander nie?

– Pas aan by individue. Vooruitdenkende leiers identifiseer die vlak waarop elke individu opereer en belyn hul sterk punte met projekte en uitdagings wat hulle bemagtig en ontwikkel. Terugvoer en leiding (mentoring) is op volgelinge se unieke behoeftes toegespits, wat tyd spaar en produktiwiteit verhoog. Leiers benut die eienskappe wat natuurlik by elke werknemer voorkom tot voordeel van ’n projek en gee volgelinge die geleentheid om foute te maak en daaruit te leer. 

– Gryp uitdagings aan. Probleme word as geleenthede vir innovering gesien – uitdagings wat sinergie van beide die leier en navolger vereis. Leiers staan vir ’n wyle terug en gee navolgers die vryheid om te leer, foute te maak en hulself te heroriënteer. Só word ’n leerkultuur gebou wat volgelinge bemagtig om met ambivalensie saam te leef – ’n vaardigheid wat van kritieke belang in onsekere tye is. Onverskrokke besluitneming vereis verbeelding en samewerking, en bemagtig ’n span om by snelveranderende tegnologie aan te pas. Dis die enigste manier waarop organisasies aanpasbaar en mededingend kan bly. 

– Omarm tegnologie. Die grootste tegnologiese uitdaging tans is kunsmatige intelligensie (KI). Organisasies kan nie bekostig om net meer te oorlééf nie en moet KI-tegnologie gebruik om huidige menslike vaardighede te komplementeer eerder as te vervang. In tye van die oorlading van inligting is dit dringend vir leiers om duidelikheid en rigting te verskaf. Waar ’n leerkultuur reeds bestaan, voel navolgers gemakliker om foute te maak, terwyl leer en aanpassing vinniger plaasvind. 

– Vertroue. Leiers wat hul spanne vertrou skep die grondslag vir samewerking en innovering. Stagnering vind plaas wanneer leiers probeer om alles self te doen eerder as om duidelike doelwitte vir navolgers te stel en oop dialoog aan te moedig. Só word idees gedeel en volgelinge neem eienaarskap van hul rolle. 

– Doelgerigte kommunikasie. Kommunikasie is vir vooruitgang soos brandstof vir ’n motor en leiers moet toesien dat dit binne perke plaasvind. Te veel kanale, soos e-posse, vergaderings en groepe, lei tot inligting wat verlore raak te midde van hedendaagse gejaadgheid. Vasgestelde kommunikasiereëls is belangrik – die hoe, waar en wanneer, terwyl werk-lewe-integrasie gerespekteer word. 

#LeierskapSleutel: Inspirasie, egtheid, empatie en strategiese kommunikasie is die teenvoeter vir soutpilaarleiers. Dinamiese leiers waardeer diversiteit, bevorder vertroue, innovering en kreatiwiteit en omskep visie in uitvoerbare take. 

* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsveld.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-05-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer