Leierskap vir leke – ’n Leier se grootste seën
“Humor is die mensdom se grootste seën.” – Mark Twain, Amerikaanse skrywer
Geldmaak is ’n ernstige saak en geen onderneming het tyd vir ligsinnige leiers nie. Geen balansstaat of jaarverslag het nog ooit ’n opskrif vir ‘humor’ gehad nie. Maar hier is die kwelvraag: Wanneer laas het jy by jou werk gelag? Nie geglimlag nie, daai lekker-kry-amper-lê-ek-lag?
Kom ons gesels ernstig – oor humor. Dit is nie ’n vaardigheid wat leiers onderskat nie, dit is een wat hulle heeltemal ignoreer – waarskynlik omdat sakeleiers nie juis akademiese studies lees nie. As hulle het, sou hulle weet dat humor in die werkplek stres verminder, betrokkenheid verhoog en kreatiwiteit aanmoedig.
Met al die wins-adrenalien in omloop, kan leiers en navolgers doen met méér endorfiene wat lag meebring. Mense wat lag se kortisol verlaag en kalmte neem toe. Die totaal hiervan is gelyk aan dieselfde euforie as ’n goeie oefensessie. Humor is nie ’n ergernis nie, dit is ’n kragtige leierskapinstrument.
Navorsing bewys dat navolgers hul leiers, wat ’n gesonde sin vir humor toon, as meer toeganklik en visioenêr beskou. Eerder as om deur gesag geïntimideer te word, voel volgelinge dat hulle gemakliker en veiliger idees kan uitruil en foute erken – en selfs daaroor lag. Dit beteken nie leiers moet na dese by die Windhoek-komedieklub aansluit nie, maar ’n brokkie humor op sy tyd versterk verhoudings, bring konneksies mee en verlig spanning en druk in die werkplek.
Wat nodig is – want tussen oorloë, brandstofkrisisse, ekonomiese kopkrappery en jou hond wat weer by die hek uitgehardloop het, streel twee minute se ontlading die sisteem. Soms moet mens terugslae, frustrasies en chaos in die oë kyk en met ’n glimlag sê: Jou blikskottel, vir my kry jy nie onder nie. Dié leiers wat met humor en grasie lei, verhoed dat spanning eskaleer. Selfs ’n bietjie humor vir die een in die spieël, wys dat leiers nie altyd hulself so ernstig opneem nie.
Neem nou maar die voormalige Amerikaanse president, Barack Obama – hy was een van die mees charismatiese leiers in die wêreld, juis oor sy uitsonderlike sin vir humor tydens toesprake en onderhoude. Leiers wat die kuns van humor verstaan, is dikwels meer emosioneel intelligent, kan kontekste begryp en weet hoe om positief te kommunikeer. Hulle bring die beste in mense uit, bewerkstellig verandering, vorm ’n positiewe korporatiewe kultuur en bevorder sielkundige veerkragtigheid onder hul volgelinge.
Die beste leiers weet dat mense nie net geléí word nie, hulle floreer met hoop, konneksie en emosionele verligting. Stres kan sekerlik nie uit die salaristjek gehaal word nie, maar humor kan die balansstaat laat klop. Dit is die mensdom – en leiers – se grootste seën, al word dit misgekyk terwyl ons onsself teen markte, aandelebeurse en prestasie-evaluasies blindstaar.
Humor in die werkplek moet darem aan ’n paar vereistes voldoen: Dit moet gepas wees, want nie alle humor is behulpsaam nie. Sarkasme, vernedering of humor ten koste van ’n persoon gaan die teenoorgestelde uitwerking hê, naamlik om vertroue te skend. Humor is nie snaaks wanneer dit ander verkleineer, uitsluit of aanspreeklikheid wegskuif nie. Doeltreffende humor is gepas, inklusief en eerbiedig. Nie almal deel dieselfde sin vir humor nie, dus moet leiers die gehoor kan ‘lees’.
#LeierskapSleutel: Leiers wat humor in die werkplek gebruik is meer doeltreffend as leiers wat dit nié doen nie. Maak ’n grappie, vertel ’n snaakse verhaal of deel ’n humoristiese meme. Lag vir ’n slag.
* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsveld.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie