Leierskap vir leke – Mwalimu wéét
“Leierskap behels om met mense te praat en te debatteer, om te verduidelik en te oorreed. Dit beteken om betekenisvolle voorstelle te maak en saam met mense te werk om dit te verwesenlik.” – Julius K. Nyerere, uit Freedom & Development (1973)
Baie leiers hanteer kommunikasie soos ’n radio-uitsending: Hulle praat en iemand luister. Later staan dié leiers dan verbaas om uit te vind dat niemand op hul stasie ingeskakel was nie.
Dis waar leiers die pot mis sit: Kommunikasie gebeur wanneer inligting uitgeruil word – die kodewoord is ‘uitruil’. Kommunikasie is minder soos ’n radioprogram en meer soos ’n WhatsApp-boodskap: Dit behels die hantering van inligting, terugvoer, aanhangsels vir konteks en opvolg-aksie. Dis ook nie nét die woordeboek-definisie nie. Een van Afrika se grootste leiers, Julius K. Nyerere, was ’n voorstander van doeltreffende kommunikasie – hy is nie verniet ‘Mwalimu’ (die Swahili-woord vir ‘onderwyser’) genoem nie. Die boodskap in sy boek, Freedom & Development, is duidelik: Leiers kommunikeer mét mense, nie vír hulle nie.
Nyerere het in drie idees vasgevang hoe leierskap alleen suksesvol kan wees indien navolgers ’n leier se visie déél en verstáán.
– Leiers verduidelik, hulle gee nie bloot instruksies nie. Nyerere het begryp dat volgelinge nie instruksies uitvoer bloot omdat dit uitgedeel is nie. Volgens hom moet hulle verstaan wáárom iets gedoen word, nie net wát gedoen moet word.
– Kommunikasie is ’n dialoog, nie ’n monoloog nie. Mwalimu maak dit duidelik dat leiers se verantwoordelikheid nie net is om mense te lei nie, maar ook na hulle te luister – kritiek ingesluit. Om te luister is nie ’n guns nie, dit is integraal tot ware leierskap. Navorsing staaf wat Nyerere sê: Navolgers wat voel hulle word gehoor, omarm verandering makliker.
– Oorreding is meer doeltreffend as manipulasie of dwang. Volgens Nyerere is leierskap geslaagd wanneer kommunikasie poog om te oorreed, eerder as om gesag te forseer.
Dit bring ons tot by die waarde van konstruktiewe terugvoer in leierskap. Gereelde terugvoer, volgens skrywer, Anna Carroll, bemagtig spanne om doelwitte te haal midde ’n kultuur van deursigtigheid en eerlikheid.
Sy reken daaglikse terugvoer is meer waardevol as ’n eenmalige prestasie-evaluasie, juis omdat ’n kultuur van terugvoer die norm word en verseker dat alle volgelinge die boot in dieselfde rigting stuur.
Sy wys uit dat navolgers prestasie-evaluasies vrees omdat kritiek die brein, weens verhoogde hormoon-afskeidings, in ’n veg-of-vlug modus plaas. Die uiteinde is terugvoer wat by die een oor in, en by die ander, uitgaan.
Carroll het drie wenke aan leiers:
– Vestig terugvoer kanale waar voorstelle opreg oorweeg en waar kreatiewe en innoverende (lees: onkonvensionele) idees aangemoedig en ondersteun word.
– Ondersteun terugvoer met data sodat volgelinge verstaan wat die impak van hul take op doelwitte is.
– Terugvoer moet ook positief wees, meer nog as negatief. Individuele terugvoer is spesifiek, maar nie oorweldigend nie. Navolgers moet groei, nie belangstelling verloor nie.
Terwyl Carroll die spyker op die kop slaan oor hoe leiers beter met volgelinge kan kommunikeer, is Mwalimu Nyerere se filosofie eenvoudig verstaanbaar: Leierskap is nie ’n titel nie, dis ’n verantwoordelikheid.
#LeierskapSleutel: Navolgers vertrou ’n leier wat hulle help om te presteer. Terugvoer sluit die vermoë in om vrae te vra, te luister, jouself te evalueer en volgelinge met empatie te lei om probleme op te los en doelwitte te bereik.
* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsveld.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie