Annemarie Schullenbach
Annemarie Schullenbach

Leierskap vir leke – Leierskap deur die King-lens

Annemarie Schullenbach

“Die King Kodes kan Suid-Afrika ’n globale leier in korporatiewe bestuur maak.” – Prof. Mervyn King, voorsitter van die King Komitees vir Korporatiewe Bestuur.


Tydens Suid-Afrika se demokrasie-wittebrood het een van die belangrikste dokumente in die geskiedenis van korporatiewe bestuur die lig gesien. 

King Kode I (1994) het die edele doel gehad om die hoogste standaarde van korporatiewe bestuur (corporate governance) op ’n wyse vas te stel wat geloofwaardigheid, toerekenbaarheid en beleggersvertroue in die land sou bevorder. 

Vier uitgebreide Kodes verder, en dit sal my nie verbaas as professor King die hare uit sy kop wil trek wanneer hy die ernstige vlakke van korrupsie en verval in leierskap in ons buurland aanskou nie. Indien die hoogste publieke en private leiers meer moeite gedoen het om King se riglyne te implementeer, was Suid-Afrika dalk al ’n indoena van vooruitgang. Maar helaas, die land het ’n uitstekende voorbeeld geword van hoe om níé aan King gehoor te gee nie. Die hoop bly wel dat Namibië in die gebied van korporatiewe bestuur die ligtoring in Afrika word.   

Die King Kode-beginsels geld universeel – ’n bybel vir korporatiewe leierskap wyer as net raadsale. 

Kode I se geboorte in die 90’s het reeds die handleiding aan leiers gebied: Toerekenbaarheid, deursigtigheid en verantwoordelikheid teenoor alle belanghebbendes. 

Dit is egter eers in Kode III (2009) dat leierskap uitdruklik ’n kernrol toegeken is. En dit is geen toeval dat leierskap die éérste beginsel is nie: Sonder doeltreffende leierskap in organisasies is King se maatstawwe niks meer as ’n wenslys in die woestyn nie.

Die eerste woorde ‘die raad moet doeltreffende, etiese leierskap bied’ moet deesdae liefs in neonligte uitgeskree word – so hard dat selfs ’n gehoorgestremde sal hoor. 

King Kode V bepaal dat raadslede oor spesifieke eienskappe moet beskik om organisatoriese doelwitte te bereik: Integriteit, bekwaamheid, aanspreeklikheid, verantwoordelikheid, regverdigheid en deursigtigheid.

Leierskap begin eers intern en dán ekstern. Dit fokus nie net op die huidige konteks nie, maar ook op die verlede en die toekoms. 

Onderliggend aan leierskap in korporatiewe bestuur is die beginsel van etiek – dit begin by die raad, deurdring die werksmag en word deur alle belanghebbendes ervaar.

Verantwoordelike korporatiewe bestuur se tentakels strek tot in die ekonomiese, maatskaplike en omgewingsfere. King beklemtoon dat doeltreffende leierskap uitkomsgebaseer is, terwyl beheerliggame die organisasie se prestasie binne hierdie sfere dirigeer. King V is so oortuig van die belangrikheid van leierskap dat die filosofie van Ubuntu ook ’n lêplek in die Kode kry – as die kern van geïntegreerde denke binne organisatoriese leierskap. 

Volgens King is leierskap nie ’n titel of magsposisie nie – dit is etiese rentmeesterskap (stewardship) vervat in organisatoriese kultuur, prestasie, bestuur en regmatigheid (legitimacy). 

Leierskap is nie die gawe om mense te beheer nie, dit is om te verstaan dat invloed en vertroue verantwoordelik uitgeleef moet word. Kom ons herskryf die wyse professor se woorde: Die King Kodes kan Namibië díé wêreldwye leier in korporatiewe bestuur maak.


#LeierskapSleutel: Leiers lei eties en doeltreffend – met integriteit, bekwaamheid, aanspreeklikheid en onverskrokkenheid, om langtermynvertroue en volhoubare organisatoriese prestasie te weeg te bring.


– Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsveld. 

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer