No Image Caption

Leierskap vir leke – Leiers speel hul eie deuntjie

“Ek glo elke leier moet hulself instel soos ’n musiekinstrument. . . om musiek te maak wat mense deur ’n edele doel verbind.” – Fred Kofman, leierskapsafrigter en -skrywer

Vandag grawe ek in my eie skatkis vir ’n paar diamante, en dis ’n storie van musiek. Wanneer ek nie skryf of uitsaai nie, hak my vingers by musiekinstrumente vas. My een voorliefde is ’n instrument wat min mense al in lewende lywe gehoor het. Party bewonder dit, ander vermy dit – die doedelsak (of ja, horrelpyp). Doedelsakspelers in Namibië is skaarser as ’n Alkoholiste Anoniem-vergadering in ’n kroeg; en dit op sigself skep uitdagings vir ’n beginner – geen instrukteurs of marsorkeste om ’n groentjie onder die vlerk te neem nie. Anders as ’n kitaar of klavier, begin mens nie net om daai bielie van ’n sak te speel nie. Nee, jou pad óp na die doedelsak loop eers deur ’n melodiepyp en dan die ‘goose.’ Ná maande se vinger- en asemhalingsoefeninge op die voorgangers, mag jy eers jou vingers op daardie melankoliese doedelsak kry. Die doedelsak is ook beperk met min ruimte vir melodiese dinamika, aksentuering of rusnote.

So wat maak die doedelsak so moeilik, maar ook uniek en indrukwekkend, om te speel? Nie die ewig gonsende dreunpype (drones) nie, nie die marathon in jou longe om die sak opgeblaas te hou nie, en nie die multitaakproses om op maat te loop én te speel nie. Die kuns lê in die versieringsnote (grace notes) – ’n reeks mini-note wat tussen die standaard note van elke wysie gespeel word. Hierdie mini-note kan uit enige iets tussen een en vyf note bestaan wat so vinnig gespeel moet word dat die wysie konstant vloei. Die versieringsnote is die verskil tussen ’n melodie wat so eentonig soos ’n stofsuier klink en trane op ‘Amazing Grace’.

Goeie leierskap is dalk so skaars soos doedelsakspelers, maar minder ingewikkeld om te leer. In Namibië is nie instrukteurs om by aan te klop nie – hulle is so dun gesaai soos leierskapmentors.

Waar mentors afwesig is, moet mens maar self die bladmusiek optel en jou wysie ín-repeteer. Jy sit jou vingers op die melodiepyp en jy oefen die note tot jou vingers sélf die regte gaatjies raakvat. En net soos mens eers met ’n melodiepyp speel voor jy later by daardie grootbaas uitkom, só begin leierskap wanneer jy nog die laagste vlak van die hiërargie amuseer.

Vir party kom leierskap so maklik soos om ’n deuntjie te fluit, vir ander is dit ’n marathon sonder einde. Wanneer jy weer ’n doedelsakspeler in Skotse uniform sien speel, weet dat die musikant die instrument aan die gang moet hou, in tempo moet beweeg sonder om oor hul voete of note te struikel, en dan nog moet lyk of hulle dit geniet – soos leierskap.

Dis hoe leiers hul span aan die gang hou, in maat met die ander leiers in die organisasie beweeg, sorg dat niemand oor hul mislukkings struikel nie en dan moet lyk of hulle dit geniet. Asof dit nie genoeg druk is nie, moet die leier daardie rits versieringsnote inpas – professionalisme, motivering, strategie, uithouvermoë en geduld.

Elke leier speel met hul eie dreunpype in die agtergrond – daardie mense wat raad gee of net ’n skouer bied waarop hulle kan ontlaai. Maar anders as die doedelsak wat nie ruimte laat vir musikale nuanse, rusnote of aksentuering nie, bied leierskap vele geleenthede vir leiers om hul eie wysie te vind – in stiltes of op die parades.

#LeierskapSleutel: Elke leier maak hul eie musiek. Dit kos oneindige moed en opoffering, maar wanneer die meegevoerde gehoor die marsorkes toejuig, is elke noot ’n diamant.

* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsveld.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-03-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer