Annemarie Schullenbach
Annemarie Schullenbach

Leierskap vir leke – EI-leiers vind eers hulself

Annemarie Schullenbach

“Die eenvoudige waarheid is dat ons beide rasionele en emosionele data in ons lewens nodig het om suksesvol in besigheid te wees.” – Emily A. Sterrett, leierskapskrywer en -konsultant 


Vir dekades lank is gepoog om emosies in die werkplek soos rondloperhonde te steriliseer uit vrees dat hulle kleintjies kan kry wat sekerlik organisasies se ondergang sou beteken. 

Die idee van ’n emosielose werkplek was gegrond in die industrialisering van ekonomieë waar doeltreffendheid en standaardisering gemaksimaliseer moes word. Massaproduksie het nie tyd vir mense se gevoelens nie. 

In ’n historiese patriargiese stelsel, frons niemand vir woede nie, maar trane laat gou die wenkbroue lig. Goeie besluite is kil en logies, emosies is chaoties en onprofessioneel. Maar die waarheid is dat werkplekke nie emosie-vry geword het nie, net emosie-blind. 

Wetenskap het reeds bewys dat ingewikkelde besluitneming, diversiteit en konstante verandering emosionele bewustheid nodig het. Mense wat soos masjiene hanteer word, kan nie suksesvol innoveer, saamwerk of ander lei nie. 

In organisasies waar emosies swak bestuur word, is werknemers dikwels depressief en onbetrokke by hul take. Sulke organisasies kyk verby die data wat in emosies opgesluit lê. Leiers wat egter oor emosionele intelligensie (EI) beskik, het ’n groter vermoë om ander tot sukses aan te spoor. Hulle maak staat op hul innerlike intuïsie, karakter, integriteit en motivering, en bou gesonde kommunikasie en verhoudings. 

Volgens dr. Sterret begin EI by die self:

– Selfbewustheid is die gewaarwording van mens se eie liggaam, fisieke reaksies, emosies, voorkeure, bedoelings, doelwitte, waardes en selfbeeld. Kennis van die self skep geleenthede vir alternatiewe optrede. Daarenteen, waar ’n leier nie goeie kennis van hulself het nie, word situasies verkeerd en sonder empatie hanteer wat onderlinge teësinnigheid by navolgers skep. 

– Selfvertroue is die geloof in die self wat ’n persoon in staat stel om te doen wat verwag word om die gewenste uitkoms te behaal. Leiers met lae selfvertroue het nie die vermoë om foute te erken of om verskoning te vra nie. Hulle kruip weg agter arrogansie en neig daartoe om te spog of ander te boelie. 

– Selfbeheersing is ’n leier se positiewe houding teenoor hulself. Hulle het genoeg selfkennis om die regte besluite te neem en vertrou hul oordeel. EI-leiers toon gevoelens wanneer dit gepas is en hanteer die sogenaamde “negatiewe” emosies op ’n positiewe manier. Hulle gebruik selfbeheersing om emosies te balanseer.  

– Empatiese leiers verstaan ander se gevoelens deur hulself in ’n soortgelyke situasie as ander voor te stel. Die vaardigheid om na ander te luister, sonder om te oordeel, kan aangeleer word. 

– Motivering help leiers met EI om betekenis aan gedrag en besluite toe te skryf, eerder as ’n meganiese uitvoering van verwagtinge. Leiers wat sonder motivering en dryfkrag lei, vind geen betekenis in die organisasie se bestaan nie en kan dus ook nie ander inspireer nie. 

Of emosies in organisasies erken word of nie, dit bly die kern van ’n onderneming se kultuur wat agter die skerms besig is om besluitneming en prestasie te dryf. EI-leiers laat hul volgelinge toe om met hulle te verskil, hul onsekerhede te deel en selfs kwesbaarheid te toon – sonder vrees vir bestraffing. 

#LeierskapSleutel: Bestuurders word leiers wanneer hulle erken dat emosies hulself en ander beïnvloed. Suksesvolle leiers onderdruk nie emosies nie, hulle bestuur dit. 


* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsveld.

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-06-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer