Leierskap vir leke – EI-leiers skep EI-volgelinge
“Baie mense het die titel van ‘bestuurder’ maar is eenvoudig ondoeltreffend in hul kapasiteit. Ware leiers inspireer en motiveer ander, bewerkstellig spanwerk en behaal uitsonderlike sukses deur die voorbeeld te stel van die gedrag wat hulle van ander verwag.”
– Emily A. Sterrett, leierskapskrywer en -konsultant
In ’n vorige rubriek het ons gefokus op die emosionele ontwikkeling van die leier self en die waarde daarvan in die werkplek.
Emosionele intelligensie (EI) in ’n leier kring ook uit na hul volgelinge deur hul kommunikasie en sosiale vaardighede met ander. Hierdie sosiale vaardighede behels dat leiers ook op hul navolgers se ervarings fokus en sélf die voorbeeld stel van wat hulle van ander verwag.
Dr. Sterrett bied die volgende raad vir leiers om EI in hul navolgers te bou:
– Invloed: Ware leiers beïnvloed ander tot wedersydse voordeel en nie vir persoonlike gewin nie. Dis juis makliker om navolgers te beïnvloed wanneer hulle voel dat daar werklik in hulle belang gestel word. Invloed wat egter etiese verwagtinge oortree, verander in manipulasie.
– Verwagtinge: Leiers stel doelwitte wat uitdagend, maar nie uitmergelend, is nie. Hulle bespreek en onderhandel doelwitte en tydlyne met werknemers en is bereid om ’n kompromie te bereik.
– Toeganklikheid: Leiers is nie net toeganklik vir navolgers nie, maar ook ondersteunend. Ontoereikende leiers ondermyn vertroue en lojaliteit. Daar is dalk leiers wat reken dat beskikbaarheid juis afhanklikheid aanmoedig. Afhanklikheid gebeur egter slegs wanneer navolgers nié bemagtig word nie en vir elke klein handeling toestemming moet vra.
– Bemagtiging: Leiers verwag dikwels werknemers moet verantwoordelikheid vat vir hul werk, maar gee dan nie navolgers kans om dit te doen nie. Dié leiers verwoord elke opdrag en deel antwoorde uit, wat volgelinge die kans ontneem om self te groei. Goeie leiers bemagtig navolgers en ondersteun dan ook hul besluite.
– Terugvoer: Navolgers ontwikkel wanneer hulle gereelde positiewe terugvoer ontvang. Komplimente en erkenning word voor almal gegee, kritiek persoon tot persoon. Entoesiasme en betrokkenheid verhoog wanneer leiers fokus op wat navolgers rég doen.
– Emosies: ’n Goeie leier besef dat ’n werknemer nie hulself van hul persoonlike situasie kan ontkoppel wanneer hulle by die kantoor instap nie. Leiers erken dat werknemers met emosie reageer en lei hulle om selfbeheersing te vind en gepas op te tree.
– Konflik en kritiek: EI-leiers beskou probleme en foute as geleenthede om te groei. Kritiek word uitgedeel op ’n manier wat die navolger help om te groei en te verbeter, eerder as te bestraf. Dit is positief geposisioneer en op die gedrag gefokus, nie die persoon nie. Goeie leiers neem ook die navolger se verduideliking in ag – met ander woorde, dis ’n dialoog, nie ’n kritiese monoloog nie.
– Regverdigheid: EI-leiers behandel navolgers gelyk en vermy die neiging om groepkonflik te domineer. Dis nie maklik nie, maar dié leiers aanvaar dat navolgers teenstrydige perspektiewe kan hê, wat ter wille van vordering en eenheid gebalanseer moet word.
Die bou van EI in beide die leier en hul navolgers, is nie ’n kitsproses nie, maar een wat tyd en geduld verg. Dit kom met verantwoordelikheid, verdraagsaamheid en ’n greintjie humor.
#LeierskapSleutel: Erken dat navolgers se emosies nie tydens die werkdag by die huis agtergebly het nie. Bou EI in navolgers deur positiewe emosionele gedrag te beloon en negatiewe gedrag op ’n positiewe manier aan te spreek.
* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsveld.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie