Leierskap vir leke – Digitale leierskap
“Tegnologie gee ons mag, maar dit sê nie hoe ons daardie mag moet gebruik nie.” – Toegeskryf aan Yuval Noah Harari, skrywer
Leierskap is die uitkoms van uitdagings – ’n uitdaging verskyn, waarná ’n leier die verantwoordelikheid op hul skouers neem om dit te oorkom, ongeag of dit ’n orkes, ’n klub, ’n besigheid of ’n land is wat gelei moet word. Die uitkoms van leierskap wat stagneer, is eers institusionele verlamming, gevolg deur ’n koma en later ’n begrafnisrede. Om daardie Lasarus dán op te wek, verg ’n wonderwerk.
Hedendaagse leiers sit met ’n uitdaging wat herhaaldelik muteer, dikwels vinniger as waarby ons kan aanpas. Dis ’n uitdaging wat so gevorderd geraak het, dat ons self nie altyd eens verstaan waarmee ons te doen het nie.
Dis tegnologie – ’n uitdaging wat potensieel groter as die mensdom self kan word. En die vraag: Het ons met kunsmatige intelligensie die eindpunt bereik?
Tegnologie het digitale leierskap genoodsaak: Die vermoë om mense en organisasies te lei in ’n era waar elke faset van ons bestaan deur tegnologie gereël word. Digitale leierskap is meer as net die gebruik van ’n rekenaarnetwerk of sosiale media – dis die insig om te verstaan hoe tegnologie gedrag, kommunikasie, verwagtinge, mededinging en mag beïnvloed. Tegnologie is ’n verlenging van menslike bewustheid en beweging wat strategie, lewens en kulture dryf. Te midde van hierdie tegnologiese oseaan moet leiers voortdurende ontwrigting navigeer in komplekse, diverse samelewings en ’n maalkolk van etiese bedreigings.
Die meeste mense staan agter ’n deur met ’n kolf en verwelkom verandering asof dit ’n inbreker in die nag is. Ons het egter nie ’n keuse of ons tegnologie by die deur wil inlaat nie, want tegnologie sonder mense is so nutteloos soos ’n eier in ’n Kersboom.
Leiers besef dat mense die hart van tegnologie is; en dat empatie, kommunikasie en duidelike verwagtinge die bloedstroom van mens-gesentreerde digitale leierskap is.
In digitale leierskap word hiërargieë deur ineengeweefde ekosisteme vervang wat afhanklik is van die bou van netwerke. Invloed is nie meer van bo na onder nie, maar moet bestuur word soos die netwerk van are in die liggaam.
Digitale leiers begin by hul eie persoonlike groei deur nuuskierigheid, aanpasbaarheid en eksperimentering. Hulle is nie noodwendig statistici nie, maar besit die insig om die regte vrae te vra, inligting te interpreteer, dit in uitkomste te omskep en daardie uitkomste eenvoudig te kommunikeer. In digitale leierskap is die spoed waarteen besluite geneem word van kritieke belang, selfs wanneer nie alle data beskikbaar is nie en te midde van toenemende etiese vraagstukke.
Digitale leierskap is sinoniem met netwerke – die vermoë om mense, hulpbronne en kennis regdeur interafhanklike groepe te mobiliseer om gedeelde doelwitte te bereik.
Goeie digitale leiers bemiddel departemente, organisasies en gemeenskappe om saam te werk deur navolgers te bemagtig en te verseker dat inligting vrylik deur kanale vloei. Dié leiers het één taak: Om, deur kommunikasie, digitale werk eenvoudig, doelgerig en menslik te maak.
In ’n digitale netwerk is volgelinge nie ’n nagedagte nie, hulle is die kern. Digitale netwerke is eers ’n belegging wanneer dit gebruik word om vertroue te bou, eerder om navolgers te polisieer. En met kunsmatige intelligensie as die wolf voor ons deur, is digitale leierskap nóú meer broodnodig as ooit. Mense volg nie tegnologie nie, hulle volg leiers.
#LeierskapSleutel: Mense bly die hart van tegnologie.
* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsveld.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie