Leierskap vir leke – Die toekoms van medialeierskap II
“Media in die 21ste eeu is ingewikkeld, maar diegene wat dit met visie en integriteit benader sal die toekoms definieer.”*
Om die drade van die vorige rubriek weer bymekaar te bring: Die toekoms van medialeierskap in die 21ste eeu word in aanpasbaarheid, innovering en data-gedrewe besluite vervat.
Op die vraag of daar ’n toekoms vir medialeiers is, is die antwoord: Die media ís die leier van die toekoms.
Anders as twee dekades gelede, is medialeierskap nie meer tot ’n enkele geografiese gebied beperk nie. Om my ‘nuus’-kierigheid te bevredig het ek nie meer ’n gedrukte Republikein nodig nie – met ’n foon kan ek sommer in Etosha of Thailand my Namibiese nuus verorber.
Die demografie van Republikein se lesers is verplaas van ‘Namibiërs’ tot ‘Die Wêreld.’ Hierdie verskuiwing bring ’n nuwe verantwoordelikheid mee: Diversiteit en inklusiwiteit. Medialeierskap is alleen betekenisvol as inhoud diverse sienings en idees weerspieël. Diversiteit is nie net tot inhoud beperk nie – uitnemende medialeiers verseker dat hulle diversiteit in hul indiensnemingspraktyke, probleemoplossing en strategie insluit.
Verwagtinge van inklusiwiteit word met joernalistieke waardes en innovering gebalanseer. Die mag van die media lê juis in die hekwagter-rol: Wie se stemme gehoor, watter stereotipes bevestig en watter ideologie bevorder word. Die uitkoms van ’n mediastrategie spoel déúr kultuur, politiek en openbare belang.
In ’n wêreld wat tegnologies al meer verweef is, is die dae van ‘een-grootte-pas-almal’-strategieë nutteloos. Sosiale media wat altyd ‘vry-vir-almal’-toegang gebied het, word al hoe meer aan strenger wetlike vereistes onderwerp. Byvoorbeeld, in Australië is ’n verbod op die gebruik van sosiale media vir kinders jonger as 16 geplaas. In baie lande word meer regulering toegepas om sosialemediaplatforms vir inhoud, verbruik en die betaling van belasting verantwoordelik te hou.
Ware medialeiers se begrip van globale media-etiek, internasionale regulering, sensuur en gehore se uiteenlopende verwagtinge, word ’n kritieke vaardigheid om die volhoubare bestaan van die media te verseker.
Vryheid van die media is die direkte gevolg van demokratiese, stabiele samelewings waar die media ’n rol speel om remme en teenwigte in die private en publieke sektore te bewerkstellig.
Die ideaal sou ’n media-ekosisteem gewees het waar mediahuise 100% objektief en neutraal kon bly en waar geld geen rol sou speel nie. Maar binne ’n kapitalistiese bestel word mediahuise tot finansiële alliansies gedwing – inligting is nie ’n luuksheid nie, dis oor oorlewing en volhoubaarheid.
Dit terwyl finansiële strategieë die uitdagings van betroubaarheid en deursigtigheid moet navigeer. Goeie medialeierskap vul profyt van tradisionele mediums (wat aan die afneem is) met digitale subskripsiemodelle, geborgde inhoud en innoverende inkomste strome aan.
Swak medialeiers verswelg gebruikers met indringende advertensies, misleidende borgskappe en vals nuus – enigiets is aanvaarbaar solank die gebruiker se dopamienverslawing uitgebuit kan word.
#LeierskapSleutel: Swak medialeiers vuur propaganda en verdeling aan; goeie medialeiers bou ingeligte, empatiese samelewings. Verantwoordelike beriggewing definieer waarheid, aanspreeklikheid en openbare diensbaarheid.
*Gebaseer op ’n artikel ‘What it takes to be a media leader in the 21st century’ op die webtuiste van The European Business Review (18/02/25).
– Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsveld.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie