No Image Caption

Leierskap vir leke – Die taal van leiers

“Google-spanne het baie outonomie, insluitend van mense soos ek.” – Sundar Pichai, Google: Uitvoerende hoof

Die leierskapskenner, dr. Cheryl Robinson, reken in ’n artikel op Forbes se webtuiste (2025) dat die taal van leierskap besig is om te verander.

Die dae is verby waar besluite agter geslote deure uitgetimmer is – dis nou spanwerk. Die hardste stem in die raadsaal is stilgemaak sodat na werknemers geluister kan word. Besigheidsjargon is uit, genuanseerde kommunikasie is in. Weg is die sogenaamde kommandante, dis tyd vir kommunikeerders wat weet hoe om taal in kultuur en konneksie te verander.

Hierdie, sê Robinson, is die nuwe taal van leiers:

– Van ‘verantwoordbaarheid’ na ‘eienaarskap’: Gedeelde toerekenbaarheid in organisasies is belangrik, maar die woord ‘verantwoordbaarheid’ (accountability) het nou al ’n ondertoon van bestraffing verwerf, veral tydens prestasiegesprekke. ‘Eienaarskap’ daarenteen klink proaktief en samewerkende, eerder as vreesaanjaend.

– Van ‘belyning’ na ‘instemming’: Ons moet ‘belyn’ (align) klink soos ’n marsjeer opdrag, eerder as ooreenstemming. Vrae soos ‘Stem ons saam?’ open die vloer vir gesprekke en gedeelde eienaarskap.

– Van ‘terugvoer’ na ‘insigte’: ‘Terugvoer’ sit al met ’n droewige konnotasie dat kritiek as ‘evaluering’ gekamoefleer is. “Insigte” is ’n meer neutrale begrip en gee partye kans om oper, eerliker gesprekke te voer wat wederkerig is (nie net bo-na-onder nie).

– Van ‘werknemer’ na ‘medewerker’ (contributor) of ‘spanlid’: Titels maak saak want dit versterk persepsies en kontekste. ‘Werknemer’ klink transaksioneel, ‘medewerker’ klink opsetlik. ‘Spanlid’ impliseer doelgerigte, gedeelde verantwoordelikheid (of eienaarskap).

– Van ‘werk-lewe-balans’ na ‘werk-lewe-harmonie’: ‘Werk-lewe-balans’ skilder ’n portret van ’n hewige toutrekkery tussen ‘lewe’ en ‘werk’ – moontlik omdat sommige leiers harder trek aan daai ‘werk’-punt as wat nodig is. ‘Werk-lewe-harmonie’ is die nuwe modewoord wat ’n veel meer aanlokliker prentjie skets van integrasie, eerder as weerstand. ‘Lewe’ draai nie rondom ‘werk’ nie, maar beide is ’n fondasie vir groei.

– Van ‘bestuur’ na ‘mentor’: Bestuurders word leiers wanneer hulle van toesig na ondersteuning beweeg. Dis in hierdie niemandsland waar navolgers ruimte kry om te leer, foute te maak en te groei. Die leier bestuur nie net nie, maar bemagtig ook.

Vra maar vir Google waarom hulle as een van die suksesvolste maatskappye, met die mees positiewe werksomgewings, beskou word. Dis daar waar bestuurders opgelei word om terugvoer te gee wat spesifiek, gedrags-georiënteerd en toekomsgerig is, eerder as emosiebelaaid en neerhalend. Google-leiers vra ‘Wat het ons geleer?’ eerder as ‘Wie het nou weer aangejaag?’

Nog voorbeelde van frases wat ons kan verander:

‘Hier is die uitkoms wat ons wil hê, hoe gaan ons dit bereik?’ eerder as ‘So maak ons’.

‘Wat het in ons pad gestaan en hoe kom ons verby dit?’ eerder as ‘Waarom is dit nie gedoen nie?’

‘Dis my huidige siening, wat het ek gemis?’ eerder as ‘Ons stem almal saam. . .’

‘Watter ondersteuning het jy nodig om dit te voltooi?’ eerder as ‘Ek doen dit dan maar eerder self’.

‘Die data wys dat. . .’ eerder as ‘Ek voel. . .’

#LeierskapSleutel: Gebruik taal wat bemagtigend en ondersteunend is, eerder as krities en argumenterend. Die regte woorde skep eienaarskap, instemming en outonomie.

* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-01-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer