No Image Caption

Leierskap vir leke – Die leier in die spieël

“Florerende leiers vertoon nie bloot selfversekerd of charismaties nie. Hulle vertrou hulself.” – Kyle Emanuel Brown, skrywer van Total Self-Trust

Skrywer Kyle Emanuel Brown reken dat selfvertroue oorskat word, terwyl vertroue in die self die nuwe leierskapsleutel is.

Waar tradisionele leierskap selfvertroue beklemtoon, begin ware gesag intern – by selfgeloof of vertroue in jou eie oordeel en ervaring. Hierdie is maar een van die vereistes vir persoonlike leierskap – die dissipline om jouself te lei voor jy ander kan lei. Dis die vermoë om verantwoordelikheid te neem van jou eie gedrag, keuses en rigting eerder as om soos ’n vuurhoutjie in ’n ander se see rond te dryf.

Die leier in die spieël het selfkennis, kan selfbestuur en lewe doelgerig. Hier is die stukke waaruit die persoonlike leierskaplegkaart bestaan:

– Vertroue in hulself: Leiers wat eindelose selfvertroue in die openbaar toon, sukkel dikwels met hul eie innerlike angs, twyfel en vrese. Hierdie openbare selfvertroue is gebaseer op eksterne sukses en erkenning – faktore wat binne ’n oogwink ineen kan tuimel. Persoonlike leierskap begin in die spieël – by leiers wat hulself vertrou eerder as eksterne aansien, en wie gegrond is in hul eiewaarde, veerkragtigheid en intuïsie.

– Selfkennis: Die leiers het genoeg selfinsig om hul waardes, sterkpunte en swakpunte te erken. Hulle kan self verantwoordelikheid aanvaar vir besluite en optrede sonder om die blaam op ander individue, hul kinderjare, die nalatenskap van hul voorouers of hul astrologiese voorspelling af te skuif.

– Dissipline: Mense wat hulself eerste lei, is diegene vir wie “ja” ja is en “nee”’ nee. Hul konsekwentheid is soos stroop op koeksisters – almal weet wat hulle gaan kry. Hul interne stabiliteit gee spiere aan eksterne stabiliteit. Selfleiers volg hul eie standaarde en doelwitte – hulle wag nie by die bushalte om te sien waarheen die bus hulle kan neem nie.

– Invloed, selfs sonder ’n titel: Selfleierskap kom vóór toegekende leierskap – dit is wanneer ’n persoon ander beïnvloed, dikwels sonder om te besef dat dit gebeur. Hierdie leiers neem nie invloed as vanselfsprekend nie, maar bestuur dit doelbewus binne en buite hulself.

Niemand word gebore met persoonlike leierskap nie en persoonlike leierskap is nie almal beskore nie. Die rede daarvoor is omdat dié innerlike leierskap dikwels ’n reis is, gebaseer op groeiende ervaring, selfinsig en etiese waardes.

’n Voorbeeld is Rosa Parks wat in 1955 geweier het om haar sitplek op ’n bus in Alabama, VSA, aan ’n wit persoon af te staan. Haar stille daad van weerstand was een van die mees betekenisvolle optredes teen rassisme in die geskiedenis van die wêreld. Parks se optrede het voortgespruit uit haar vertroue en kennis van haar eie waardes. Sy het op daardie oomblik nie doelbewus gekies om ’n beweging te begin nie, maar haar invloed het ongekende gevolge gehad. Parks kon geswyg of toegegee het, maar sy het eiewaarde en geregtigheid bo korttermynvrese gekies. Inteendeel, Parks, en ander soos sy, is nog steeds ’n inspirasie vir hedendaagse leiers.

#LeierskapSleutel: Persoonlike leierskap begin met vertroue in die self, verantwoordelikheid vir die self en nuuskierigheid om die self te ontwikkel. Selfleierskap kom nog lank vóór toegekende leierskap.

* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-03-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer