No Image Caption

Leierskap vir leke – Die kommunikasie-illusie

“Die grootste probleem met kommunikasie is die illusie dat dit plaasgevind het.” – George Bernard Shaw, Ierse dramaturg en kritikus

Volgens die woordeboek is kommunikasie die aktiwiteit of proses waardeur idees en gevoelens uitgedruk word, waardeur inligting gedeel word.

Bemiddelaars sal jou sê dat kommunikasie die enigste manier is om konflik op te los – as dit die geval was, sou ons wêreld dalk sonder oorloë wees. Kommunikasie in die werkplek is wel nie ’n oorlogsone nie, al kan dit dalk so voel. Suksesvolle leiers begryp dat kommunikasie soos ’n Switserse mes is – een kant snydend skerp, andersyds ’n bemagtigende stuk gereedskap.

Om kommunikasie te laat werk, neem leiers die verantwoordelikheid wat op die volgende beginsels rus:

– Perfekte kommunikasie is ’n lugspieëling in die Namib. Kommunikasie is inherent onvolmaak, dus berus die onus op die sender (die kommunikeerder) om te verseker dat die ontvanger hul boodskap reg begryp en kan uitvoer.

– Die risiko van onsuksesvolle kommunikasie is onvermydelik, want in die oordrag van inligting is die motiverings en menings van beide partye opgesluit. Beide partye se eie identiteit en dryfkrag is nie noodwendig aan die ander bekend nie, selfs allermins belyn.

– Voeg by dié faktore die feit dat party mense wesenlik beter kommunikasievaardighede as ander het en dat dit ’n vermoë is wat ontwikkel kan word. Die uiterste vorm van die vaardigheid is wanneer kommunikasie toksies en manipulerend is.

– Kommunikasie kan oordoen word. Te veel kommunikasie, deur die verkeerde kanale, kan misverstande veroorsaak.

Algemene kommunikasieslaggate om te vermy:

– Terugvoering is inligting wat in ’n loep loop – ’n leier verkry inligting en gebruik dit om weer nuwe inligting te kommunikeer. Goeie leiers gee én vra terugvoering en is oop vir terugvoering oor hul eie leierskap.

– Elke leier besef dat hul persoonlike vooroordele en oortuigings hul kommunikasie met ander beïnvloed. Om bewus daarvan te wees, help dat kommunikasie meer objektief en gestruktureerd kan plaasvind.

– Gereelde kommunikasie, selfs net 10 minute op ’n dag, is doeltreffender as ure lange vergaderings of jaarlikse prestasie-evaluasies. Dit skep vertroue en geleenthede vir leer.

– Voorkom frustrasie deur te vermy om navolgers met uitermatige en oortollige inligting te oorweldig. Te veel kanale, soos e-posse, sosiale boodskapgroepe en vergaderings veroorsaak nie net ’n oorlading van inligting nie, maar verkort die tyd wat beskikbaar is om die werklike werk te doen.

– Gebruik die mees toepaslike kanale. Lae-konteks kanale soos e-posse en foonboodskappe of -oproepe is prakties om basiese inligting oor te dra, maar heeltemal onvanpas om probleme of konflik aan te spreek. Vir laasgenoemde is kommunikasie van aangesig tot aangesig van meer waarde.

– Stel kommunikasieriglyne vas in terme van hoe, waar en wanneer inligting gekommunikeer word. Dit sluit in riglyne oor nauurse kommunikasie en direkte selfoonboodskappe.

– Bou ’n kultuur van vertroue, respek en kommunikasie wat samewerking en innovering aanmoedig. Stel duidelike doelwitte en moedig oop dialoog aan wat navolgers bemagtig en aanspoor.

Om te verseker dat kommunikasie nie ’n “fata morgana” bly nie, moet leiers en navolgers gesamentlik verantwoordelikheid neem. Skrywer, Anna Carroll, is dit eens: Leiers wat ’n inspirerende werkskultuur skep, bevorder outonomie en ondersteuning, wat kritiek is om in vandag se onsekere tye te floreer.

* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer