• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Leierskap vir leke – Die één probleem met leierskap vandag
No Image Caption

Leierskap vir leke – Die één probleem met leierskap vandag

“Die bekamping van korrupsie begin met die vermoë om nee te sê, al lei dit tot isolasie” (vry vertaling)

– Delia Ferreira Rubio, voorsitter van Transparency International

Dit is so ooglopend soos daglig – werknemers, kliënte en belanghebbendes in organisasies verwag dat institusionele leierskap eties optree teenoor hul interne en eksterne gemeenskappe en hul natuurlike omgewing. Tog reken die Wêreld Ekonomiese Forum dat korrupsie die wêreld $3,6 biljoen per jaar aan omkoopgeld en gesteelde fondse kos. Korrupsie – die misbruik van toevertroude mag vir eie gewin – ondermyn samelewings, ekonomieë en ontwikkeling. Die misbruik van mag is maar één van die plae wat die hedendaagse leierskrisis kenmerk.

Hier is die groot probleem met leierskap vandag: Etiek. Wys my ’n uitnemende leier met twyfelagtige etiek, of ’n twyfelagtige leier met uitnemende etiek? Onmoontlik. Onetiese leierskap is die ondergang van mense, besighede, regerings en nasies. Leierskap is alleen doeltreffend en suksesvol indien dit eties is – gegrond in integriteit, opregtheid, eerlikheid en konsekwente gedrag.

Studies het bewys daar is ’n beloning vir etiese leierskap in organisasies: Groter winste, ’n betroubare reputasie en verhoogde werknemerbetrokkenheid. So wat doen etiese leiers reg?

– Deursigtige besluitneming: Etiese leiers verduidelik waarom ’n besluit geneem is, nie net wat die besluit is nie. Hulle erken wanneer hulle foute gemaak het, eerder as om die blaam af te skuif. Hul voorbeeld gee navolgers toestemming om ook eerlik, eerder as defensief, te wees.

– Interne kommunikasie: Etiese leiers gebruik doelbewuste deursigtige kommunikasie om die verhouding tussen hulself en hul navolgers te versterk. Kommunikasie is gebaseer op wederkerigheid en inligting wat tydig, akkuraat en volledig is.

– Die verpersoonliking van waardes: Diensbare leiers fokus op bemagtiging, proaktiewe optrede, spankohesie en die bevordering van ’n positiewe organisatoriese klimaat. Navolgers voel meer betrokke by hul take wanneer leiers hulle vertrou om selfstandig en verantwoordelik op te tree, hul opinies en bydraes erken en hulle aanmoedig om nuwe uitdagings te aanvaar.

Etiese leiers volg eerste die reëls en verwag dan van ander om dit te doen.

– Praat uit: Etiese leiers gee hul mening, selfs al is dit ongewild. Hulle skroom nie om in te tree wanneer iets verkeerd voel nie, selfs al is dit ongemaklik. Dié leiers kies regverdigheid bo gerieflikheid – daar is nie kortpaaie wat die magtiges bevoordeel en die minderes onderdruk nie.

– Beloon gedrag. Etiese leiers beloon gedrag, nie net prestasie nie. Prestasie kom nie ten koste van iemand anders se waardes of voortbestaan nie, want besluite word in die belang van alle belanghebbendes geneem. Volgens navorsing is daar ’n positiewe korrelasie tussen etiese leierskap en werknemers se tevredenheid, lojaliteit en produktiwiteit.

Die ongemaklike feit is dat etiese leierskap nie gemaklik, gewild of gerieflik is nie – daar is geen guns of bewondering betrokke nie. Net konsekwentheid, moed en selfbeheersing. Etiese leiers doen die regte ding, ongeag wie dit sien of nie sien nie, en ongeag die prys.

#LeierskapSleutel: Etiese leierskap begin by ’n keuse wat sê: As dit vir ander geld, geld dit vir my eerste. Hulle verhef hul stem, al is stilte veiliger.

* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-02-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer