No Image Caption

Leierskap vir leke – Vyf leierskapfoute

“Verandering is onvermydelik. Groei is opsioneel.”

– John C. Maxwell, leierskapkenner en spreker

Die meeste mense word nie met uitnemende leierskapvaardighede gebore nie.

Leierskap is, soos vele ander dinge in die lewe, ’n proses van leer, misluk, groei, misluk, leer, groei. Volmaakte leiers bestaan nie in ’n normale wêreld nie, maar leiers wat gewillig is om te leer – en te groei – is diegene wat die grootste positiewe impak sal maak. Daar is nie ’n bloudruk vir leierskapsukses nie, daar is wel ’n bloudruk vir leierskapmislukkings.

Die grootste vyf foute wat leiers maak, is om:

– Nie te luister nie. Onder normale omstandighede is leiers in hul posisie omdat hulle oor spesifieke vaardighede en kennis beskik – hul ervarings is deur tyd gevorm soos die loop van die Visrivier deur sy vallei. Maar geen leier is alwetend of alomteenwoordig nie en moet daarom die moed hê om die mag ook in hul volgelinge se hande oor te gee. Goeie leiers is nederig genoeg om hul volgelinge te vertrou en na hul raad en kennis te luister. Dis moeilik om aktief te luister, sonder om onmiddellik oordele te vel, maar dit is ’n vaardigheid wat aangeleer kan word.

– Nie om te gee nie. Die verskuiwing na werknemer-gesentreerde werksbeleide is reeds ’n geruime tyd aan die gang, maar word nou al hoe dringender namate Generasie Z die werksmag betree. Talle studies het bewys dat werknemers meer betrokke by hul werk is wanneer leiers groter belang in hul volgelinge se motiverings, ideale en ontwikkeling toon.

– Nie aan te pas nie. Aanpasbaarheid is waarskynlik een van die dringendste vaardighede waaroor leiers moet beskik. Verandering vind vandag byna van minuut tot minuut plaas – op die vlak van individue, organisasies, samelewings, ideologies, strategies en tegnologies. Dis byna onmoontlik om by te hou, maar ’n “wag-en-kyk-benadering” is waarskynlik die begin van ’n ramp. Nou, meer as ooit tevore, moet verandering verwag en aangespreek word soos dit uitspeel.

– Nie te kommunikeer nie. Leiers wat noodsaaklike of dringende inligting van volgelinge weerhou of slegs kommunikeer wanneer probleme ontstaan, ontneem die verhouding van vertroue en openlikheid. Leiers wat te veel kanale gebruik om te kommunikeer, oorweldig werknemers; terwyl kommunikasie deur die verkeerde kanale, toewyding en moraal weghamer.

– Nie toe te laat dat volgelinge groei nie – die ou probleem van “as ek dit nie self doen nie, is dit nie reg gedoen nie”. Leiers se verantwoordelikheid om hul navolgers te laat groei, moet groter as hul eie ego wees. Dis belangrik dat leiers navolgers geleenthede gee om te leer, te ontwikkel en te groei – en selfs te misluk. ’n Leier wat net vir homself leef, is sy posisie nie waardig nie. Kortweg – meer delegering, minder kritiek.

Navorsing het bewys dat slegs 20% van ondernemings se sukses as gevolg van leiers is, terwyl 80% aan volgelinge toegeskryf kan word. Leiers dink dikwels dat, omdat hulle in ’n leierskapposisie is, hulle al die kennis en antwoorde moet hê. Hierdie sin vir verantwoordelikheid vir uitkomste, versterk in leiers die idee dat kommunikasie van bo na onder moet plaasvind. Die waarheid is dat goeie leiers self groei soos hulle ander toelaat om te groei.

Leierskap is ’n spanpoging – in dieselfde mate as wat ’n dirigent sonder sy orkes net ’n uitgevatte figuur is met ’n stokkie wat deur die lug dwarrel.

* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer