Annemarie Schullenbach
Annemarie Schullenbach

Leierskap vir leke – Skadu-leiers

“Boosheid begin wanneer mense soos dinge behandel word.” – Terry Pratchett, Britse skrywer



Hoewel dit gereeld gebeur dat ons bekende leiers veroordeel en kritiseer, beskou die meeste mense leierskap as ’n positiewe verskynsel in ons samelewing. Goeie leiers gee ons nie net rede om oor hulle te praat nie, hulle inspireer en transformeer ons. Leierskap dien ’n morele doel en bemagtig die mense wat hulle volg. Ons verwag van leiers om die regte besluite te neem ten gunste van die groter samelewing.

Tog is daar ook die donker perde onder ons leiers – mense wat soveel ondenkbare sondes gepleeg het, dat ons vrees om na hulle as “leiers” te verwys. Dis egter belangrik om die negatiewe eienskappe van leiers uit te lig om ’n gebalanseerde beeld van leierskap te oorweeg. Wié die skrikwekkendste leiers van ons geskiedenis is, laat ek maar aan die leser se oordeel oor. . .

“Donker” leierskap word gekenmerk deur mense in magsposisies wat hul status vir persoonlike gewin misbruik, ten koste van die behoeftes en integriteit van die meerderheid. In dié definisie is magsposisies ook nie net tot politieke mag beperk nie, maar sluit dit ook die invloed in wat met finansiële vermoëns, kennis en inligting, of vertroue gepaardgaan. Dié leiers se onetiese gedrag is dikwels die gevolg van persoonlikheidsversteurings soos narsisme, machiavellisme en psigopatie.

Skrywers Paul Babiak en Robert D. Hare redeneer in Snakes in Suits: When Psychopaths go to Work, dat moderne organisasies dikwels ’n broeikas vir psigopate is om te floreer omdat eienskappe soos sjarme, manipulasie en waaghalsigheid onwetend beloon word. Psigopate buit organisatoriese swakhede uit, veral in omstandighede waar nie duidelike verantwoordbaarheid, etiese beginsels of prestasievereistes is nie.

’n Mens ys om te dink dat onetiese leiers soos die duiwel om elke hoek kan skuil, maar dit is beter om bewus te wees van die moontlikheid as om ’n naïewe slagoffer te word.

Die volgende eienskappe moet rooi vlae soos onkruid laat opspring:

Oormatig visionêr, charismaties en vol selfvertroue. Wanneer leiers “te goed is om waar te wees” is dit dalk net die geval. Vele skadu-leiers kruip agter sjarmante maskers weg om ander uit te buit en persoonlike voordeel uit situasies te trek.

Groot praatjies, groot beloftes. Donker leiers maak dikwels groot egoïstiese stellings en beloftes, maar wat selde realiseer. Wanneer hierdie toekomsvisies voortdurend in leë beloftes eindig, moet mens begin bevraagteken of jy met ’n visionêr of ’n narsis te doen het.

Manipulerende, ondermynende of boeliegedrag. Dit sluit ook sielkundige manipulering soos “gaslighting” in.

Afwesigheid van empatie. Donker leiers het dikwels lae vlakke van empatie en beskik nie oor die vermoë om ander se emosies of standpunte in te sien nie.

Verskuiwing van blaam. Leiers met onetiese eienskappe aanvaar nie verantwoordelikheid vir hul optrede nie. Hulle blameer ander en beeld dan hulself as die slagoffer uit. Sodanige leiers sal hul eie bose gedrag op verskeie maniere regverdig, selfs al blameer hulle die man in die maan daarvoor.

Die slegte nuus is dat mens dikwels eers hierdie leiers uitken wanneer dit te laat is, juis omdat hulle so slinks is. Die minste wat jy vir jouself kan doen, is om nie jou instink te ignoreer nie en hulp te kry wanneer jy die tipe gedrag van ander ervaar.



*Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-07-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer