Annemarie Schullenbach
Annemarie Schullenbach

Leierskap vir leke – Leierskap in konteks

“Wanneer die wêreld stilbly, kan selfs één stem magtig wees.” – Malala Yousafzai, aktivis en Nobelpryswenner.



Gereeld wanneer ek hierdie artikel skryf, moet ek naarstiglik grawe vir die regte aanhaling om my rubriek in te lei. Meeste aanhalings wat internet en kunsmatige intelligensie aan my opdis, is gewoonlik deur oorbeklemtoonde politieke of sakeleiers. Wanneer ek die stem van ’n vrou, ’n minderheids-individu of ’n sportheld soek, moet mens heelwat dieper delf. Versteek in my mini-skermutseling met tegnologie, is die twyfelagtige opvatting dat die invloedrykste leiers in die politieke en sakearenas te vinde is. Ander leierskapstemme wat relatief hard gehoor word weerklink in die godsdiens of die krygskunde.

Maar verskillende leierskap-kontekste lewer verskillende soort leiers op. In ons kapitalistiese, Westerse denkwyses speel organisatoriese leierskap ’n onbetwisbare rol om ons samelewing op ’n verantwoordelike, etiese wyse voort te dryf. Sakeleiers moet die belange van hul aandeelhouers met die belange van hul verbruikers balanseer. Van politieke leiers verwag ons ’n fokus op vooruitgang, gelyke regte vir individue en die deursigtige bestuur van ’n gemeenskap se hulpbronne. Politieke leiers staan egter nooit neutraal nie, maar word deur die bevolking se kultuur, regstrukture, instellings en media beïnvloed.

Van militêre leiers het die geskiedenis genoeg opgelewer en kenmerkend van dié tipe leiers is hul outokratiese, streng hiërargiese en missie-gedrewe benaderings. Per slot van rekening, hoe ver sou mens in ’n oorlog kom as daar eers ’n demokratiese opname gedoen moes word oor die hoe, waar en wanneer? Dissipline en strategie is hier die kern van ’n oorwinning in enige geveg. Aan die ander kant van die militêre leier staan sekerlik die godsdienstige leier – waar ons ons oë en harte rig volgens die morele en etiese waardes van ’n geestelike segsman. Hierdie soort leierskap is in ons spirituele waardes, geloof en vertroue gesetel.

Tog is daar ook ander leierskap-kontekste waarin volgelinge hul bestaansreg vind. Gemeenskapsleiers staan dikwels in die diens van ’n kleinskaalse groepering – hulle belê hul energie in die vooruitgang van daardie gemeenskap, vele male sonder tasbare wins of voordeel vir hulself. Gemeenskapsleierskap mag dalk informeel wees, maar het ’n enorme impak.

Dikwels onderskat ons ook die impak van akademiese leierskap. Met hul wortels in die wetenskap, hul strewe na kennis en hul aanleg vir denkleierskap, moet akademici hul stem gebruik om politieke ideologieë te bevraagteken. Intellektuele leiers het ook die verantwoordelikheid om hul kennis aan die volgende geslag oor te dra.

Dan is daar ook leiers wat opdaag in gespesialiseerde kontekste. Krisis-leierskap vereis gefokusde besluitneming, duidelike instruksies, deursigtigheid en kalmte wanneer die druk soos ’n tydbom wil ontplof. Die indrukwekkendste krisis-leiers beskik oor geloofwaardigheid, dwing respek af en kommunikeer hard en duidelik. Kreatiewe leiers (ook kulture leiers) is diegene wat deur hul unieke wêreldsiening tot hul volgelinge se siele spreek. Hulle praat hul eie taal, vertel hul eie stories en bring daarmee ontwrigting. Digitale leiers beskik nie noodwendig oor formele outoriteit nie, maar het die vermoë om aanlyn gemeenskappe en kulture te bewerkstellig en te bestuur.

’n Mens kan moontlik die leier uit sy konteks haal, maar selde die konteks uit leierskap. Soos Malala Yousafzai glo, net één stem is al wat nodig is vir ’n leier om gebore te word.



*Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer