Leierskap vir leke – Leier van die jaar
“Ek het geleer dat mense sal vergeet wat jy gesê het, mense sal vergeet wat jy gedoen het, maar mense sal nooit vergeet hoe jy hulle laat voel het nie.” – Dr. Maya Angelou, digter en aktivis.
Verbeel jou ’n boksgeveg. . . in die linkerhoek is Koning Leeu – indrukwekkend, magies en vol houding. Sy brul laat jou gil, want hy’s ’n bielie wat wíl. In die regterhoek trippel Bosvark, reg om sy gifappels te swaai. Jy weet nie of jy moet lag of laaglê nie. Dis ’n stryd om die Leierskap-titel van die Jaar!
Net soos Koning Leeu in die linkerhoek, was die aanvanklike opvattings van leierskap dat die lewe leeu-wêreld is, en net die sterkste en mees indrukwekkende van wildlewe sou dit oorleef.
Met ’n stewige skoot Darwin in die mengsel, is ware leiers beskou as dié wesens wat die beste gene gehad het. Dis húlle wat die evolusie-lotery gewen het en deur die hand van “natuurlike positiewe seleksie” persoonlik verkies is om die res van die koninkryk te lei.
Lank gelede is geglo dat leeu-leiers met inherente eienskappe gebore is wat hulle verhewe gemaak het om eksklusief aan die koningstafel te eet. Leeu-leiers het uitgestaan omdat hul selfvertroue groter as Sarah-se-Gat by Myl 61 was, en net effe groter as hul imposante en aantreklike voorkoms. Dié groep geseënde leiers is bekend vir hul energie en oorvol persoonlikheid, en kan met één intimiderende kyk hul navolgers soos klei brei.
Bosvark in die ander hoek weer kan nou nie juis kers vashou by Majesteit Maanhaar se indrukwekkende statuur nie, maar is veel meer bekend vir sy kranige lewensvaardighede.
Vir gedragsleiers (teenoor gebore leiers) is daar verseker ’n pluimpie uit te deel. Bosvark-leiers is meer binnegoed as bek – hulle is die leiers wat sélf hul pote vuil kry om Dawid se beste wortels uit die grond te krap.
Bosvark-leiers is leiers omdat hulle dinge wéét, hulle ken van take én om verhoudings te bestuur. Dié “oinkers is ridders aan die ronde tafel, omdat hulle in die inherente gawes van elke navolger glo. ’n Bosvark-leier is oortuig daarvan dat dit net ’n bietjie (of soms baie) opleiding, ontwikkeling en tere versorging vat om nuwe bosvark-helde te bemagtig.
Terug in die kryt, en op wie sal mens jou geld vir die Leierskap-titel van die Jaar wed? Wie jy is, is tog belangrik! Gebore leiers beskik dikwels oor natuurlike selfvertroue, integriteit of intelligensie – eienskappe wat gereeld met leierskapsukses verbind word. Die voordeel van gebore leiers is dat dit dikwels op ’n vroeë ouderdom reeds na vore tree, want as jy dit het, dan het jy dit mos.
Die geskiedenis het ook al ’n menigte leeu-leiers opgelewer, onder andere Winston Churchill, Nelson Mandela, Margaret Thatcher en Ursula Burns. Tog was die geskiedenis ook nie skaam met die uitdeel van gedragsleiers nie – Indra Nooyi, Barack Obama, Greta Thunberg en Tim Cook.
Dié persoonlikhede is uniek en bekend vir wat hulle doen, nie noodwendig wie hulle is nie. Hul uitsonderlike leierskap lê in hul vermoëns om doelwitte te stel, rolle toe te ken, vertroue te bou en ander met empatie te bemagtig.
Die waarheid is dat ’n boksgeveg oor ’n leierskaptitel onnodig is. Doeltreffende leierskap is ’n kombinasie van beide ingebore eienskappe en gedrag wat binne die regte lewenskontekste aangepas word.
Suksesvolle leierskap word gemeet aan hoe leiers hul navolgers laat vóél, nie of navolgers hulle onthou nie. Leeu en Bosvark kan maar die strydbyle begrawe want eintlik kraai elkeen koning op sy eie mishoop.
*Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private- en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie