Leierskap vir leke – Kunsmatige intelligensie, werklike leiers?
“Die industriële rewolusie het die mensdom beheer gegee oor enorme nuwe energieë... maar ons is steeds besig om te leer hoe om te voorkom dat ons deur die vuur wat ons aangesteek het, verteer word.”
– Yuval Noah Harari uit Sapiens (2014)
Die mensdom het al vele bepalende oomblikke in sy geskiedenis beleef en telkemale suksesvol daar verbybeweeg. Een daarvan is die industriële rewolusie tussen 1760 en 1830.
Groot denkers soos Adam Smith het nie die rewolusie beleef nie, maar genoeg insig gehad vir sy teorieë om die ruggraat van moderne kapitalisme te word. As Adam Smith nóú moes wakker word en beskou wat die samelewing aanvang, het hy homself heel waarskynlik sewe keer dieper teruggegrawe in Moeder Aarde in.
En terug in, sê, 1792, sou ’n steenkoolmyner (net so min soos Adam Smith) nooit homself kon indink agter die stuur van ’n hedendaagse mynstortvragmotor, ’n langafstand-passasiersvliegtuig of ’n ruimtetuig nie. Danksy die industriële rewolusie beweeg ons rondom ons planeet in blote ure, kommunikeer ons sonder om ons monde te rek en bestudeer ons planete so ver weg soos sommige politici van die realiteit. Maar saam met die industriële rewolusie het ook die uitdagings van klimaatsverandering, genadelose oorloë en mensgemaakte vernietiging gekom.
Die mensdom klop nou aan dieselfde deur as in 1760, en ons het geen idee wat agter die deur staan nie. Of erger – wie (of wat) dit gaan oopmaak nie. Net soos 260 jaar gelede, sit moderne leierskap met onvoorspelbare, ondenkbare en onbegrypbare geleenthede en risiko’s. Die industriële rewolusie is gebou op die fondasies van visionêre leiers, ongekende arbeidskwessies en etiese vraagstukke. Net soos vandag.
Met kunsmatige intelligensie (KI) sit leiers nou in stoele warmer as die lawa in ’n vuurspuwende berg. Van die warm patatte wat leiers in hul hande rondskommel is:
Veranderende sakepraktyke. KI is nie net ’n operasionele kwessie nie, dis van strategiese belang. Dit beïnvloed sakemodelle, waardekettings en volledige industrieë.
Etiese vraagstukke. Die regulering van KI is ver agterweë in vergelyking met sy vooruitgang. Leiers moet besluite maak waarvoor daar nog nie eens wetlike regulering en beginsels bestaan nie.
Masjiene en mense. Leiers is nie meer net in beheer van ’n fisiese werkerskorps nie, maar ook van die masjiene agter die mense. Werknemers en masjiene is twee kante van dieselfde muntstuk.
Kommunikasie. Daar is soveel maniere om vandag te kommunikeer dat kommunikasie dikwels gefragmenteerd, lukraak en ongekoördineerd voorkom. In ’n wêreld waar inligting vrylik beskikbaar is en nog vryliker uitgedeel word, is deursigtigheid en eerlikheid ingewikkelde situasies.
Vertroue tydens onstabiliteit. KI is oorweldigend, intimiderend en verontrustend. Daar word van leiers verwag om die boot in onstuimige oseane stabiel te hou, terwyl leiers self dikwels vir hul lewens aan die stuur vasklou.
Die skrywer, Yuval Noah Hariri, bied waarskynlik een van die beste insigte vir leiers om die KI-trein op die spore te hou: verantwoordelikheid en moraliteit. In die afwesigheid van wêreldwye regulering van KI, is dit belangrik dat elke leier die verpligting aanvaar om KI verantwoordelik en toerekenbaar te gebruik. In ’n samelewing waar KI ingespan kan word om emosies, oortuigings en keuses te beïnvloed, moet leiers kies om manipulasie, ongelykheid en waninligting te vermy.
Werklike leiers, nie kunsmatige leiers, het ’n nuwe mag en nuwe energie in hul hande en moet verhoed dat ons onsself daarmee verteer.
*Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie