Lees – die sleutel?
René Hugo – Ek het skool toe gegaan toe ek vyf was – nie omdat ek so slim was nie, maar omdat ek so aan my ouers gekarring het dat hulle later om vredeswil ingestem het.
My doel was om te leer om te lees, te spel en somme te maak. Alles wat die ander kinders in my omgewing al kon doen, net nie ek nie. Dat hulle almal ten minste drie jaar ouer was, het nooit eers by my opgekom nie. Al wat ek geweet het, is – hulle sit elke middag lekker en lees, rympies leer, tafels opsê – en ek moet maar alleen speel!
Skool wás toe lekker. Ek dink ek het van alles gehou – behalwe miskien aardrykskunde. Maar die lekkerste van al die leer, was om te kan lees. Dit het ek met groot vreugde gedoen. Van Trompie en Saartjie na die Maasdorp- en Keurboslaan-stories. Selfs Engelse stories (veral toe ek die onmoontlike Just William van Richmal Compton ontdek het) was vir my heerlik. Ek dink ek het gevoel dat lees nie leer was nie en daarom was dit so lekker.
As student het ek egter vinnig uitgevind dat lees werklik die kern van studeer is. Hoe mens ook al probeer om in die klas te luister en te onthou, was dit nooit genoeg nie. Eers as jy die gekrabbelde klasnotas aanvul met boeke, kom die wonderlike “eureka!”-ervaring na vore: “O, nou verstaan ek dit!” Daardie studieboeke was natuurlik in ons studentebiblioteek beskikbaar – ’n plek waar dikwels baie interessante persone van die teenoorgestelde geslag tussen die boeke raakgeloop kon word. So het leesgierigheid vir my ook nuwe ervaringsvelde oopgemaak. . .
Boeke (hardeblad, of in elektroniese vorm) is veral die intrede tot nuwe wêrelde. Ek kon nooit enige besoek aan vreemde plekke (dorpe, stede, lande,) beplan sonder om eers ’n bietjie oor die nuwe vreemde te lees nie.
Ek sal nooit een van die wonderlikste ervarings van my lewe vergeet nie: Die Bodleian-biblioteek in Oxford. Hier is meer as 11 miljoen boeke (al sedert 1620) gehuisves in ’n asemrowende ronde gebou. Die ruimte, die lig, die reuk – alles illustreer die wonder wat lees tot die mens se groei gemaak het.
En tans is daar natuurlik ook die spesiale wonder van elektroniese boeke: Goedkoop, beskikbaar en mobiel!
Daarom verstaan ek so goed as iemand skryf: “Books are the train, and the plane and the road. They are the destination and the journey. They are home.”
Vandag is lees nog vir my lekker en vul dit my dae. Nou het ek ook ’n beter insig in die waarde van lees en verstaan veral dat boeke mense nader aan mekaar bring. So het elke aand se leestydjies saam met ’n kleuter-seunskind in sy bed vir my die warmte en vertroeteling van “ons-spesiale-tydjie-saam” geword. En ek sal altyd dankbaar wees dat Manlief ook ’n “besete” leser is. Dit het nie alleen tot wonderbaarlike gedeelde ervarings en verryking van wedersydse begrip gelei nie, maar het sekerlik ook ons huweliksbootjie op kalmer waters gestuur.
Ek kyk met verstomming terug na die vyfjarige René wat wou leer om te lees. En nou weet hierdie bejaarde weergawe dat dit eintlik andersom is: Ons lees om te kan leer.
Die Franse skrywer Michel de Montaigne skryf reeds in 1580 oor die belangrikheid van lees: “Deur te lees is om te leer hoe om te leef. Dit is die hoogste wysheid. . .”
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie