Dieter Ian Maree
Dieter Ian Maree

Lammertjies en leeus. . .

Sê maar net
Dieter Ian Maree
// MK testing tag

Dieter Ian Maree – So vertel sy my van haar vervelige en humoristiese kinderdae by ’n privaat skool. 

Nee, nie ’n skool nie – eerder ’n instituut vir laer onderwys – ’n blok-kop kulturele belegging waar hulle haar glo daagliks op ’n dramatiese en lewensoriënterende wyse herinner het aan ’n buitelandse belastingbetaler se ruimhartigheid wat nou hierdie ideale geleentheid moontlik maak.   

“. . . man, dit was komieklik hoe hierdie spul dierbares sameswerend op ’n uurlikse basis elke draai met ’n winkelhaak wou vang en so nou en dan die pas met ’n waterpas wou aangee. En dit sonder enige heldhaftige begrip vir die feit dat ’n sekere onskuld en innoverende rebelsheid soms die beste burgers lewer. . .” 

Teen die tyd wat puberteit sonder seremonie aangebreek het, was die hormone in vloed, die hare te lank en die humeurtjies hopeloos te kort. Van hemp insteek was daar geen sprake nie en baard was met die oorgawe van onkruid gekweek. Weerlose boompies onder lang skaduwees. ’n Intimiderende bas het ook ongenooid op die toneel verskyn. 

Met Britney Spears se saai en onpeilbare drama in die agtergrond, was almal egter salig onbewus van die onafwendbare magte wat een individu bevoordeel, terwyl die ander onder die presteerder se skaduwee wegkwyn. “Sometimes I run, Sometimes I hide, Sometimes I’m scared of you. . .” 

Namate hierdie klein gode ouer en sterker geword en die grootmenswêreld met sy komplekse uitdagings betree het, het daar ietwat van ’n dilemma ontstaan. Die sisteem (waarvan hulle ’n trotse produk was!) het hulle met alles toegerus behalwe ’n betroubare GPS wat hulle kon help om meer eietydse en relevante waardes te ontwikkel.

Die Ou Testamentiese waterpas-winkelhaak-mondering was ’n uitstekende teoretiese konsep vir enige onderwysstelsel, maar in ’n wêreld van werkloosheid, armoede, aardverwarming en die lewe ná Corona, sukkel hulle nog steeds om ’n uitgediende kurrikulum op ’n dinamiese en ongenaakbare realiteit toe te pas.

“Ons het ongelukkig nooit ons ritme as mens gevind nie en was nog altyd out of step met ’n wêreld wat op ’n verbeeldinglose trant al hoe vinniger wil begin boogie…”, het ons voormalige hoofdogter (en deesdae ma van drie én ’n CA), op ’n dag herken  

“Daar is egter iets wat my probeer herinner aan ’n onverwagse nederlaag of krisis wat soms op ’n onverklaarbare wyse oorbrug was, ’n onblusbare vlammetjie wat my herinner aan die vreugdevolle verwondering wat op my kinders se gesiggies gevier was,” kom sy peinsend terug met ’n spontane weerloosheid wat weier om deur titels en prestasies op ’n haakse wyse ingeperk te word.

“Ja, ek voel nog steeds die punchline van ’n swak grap wat herhaaldelik prewel: . . . aikôna, jy het gedink julle is ’n trop leeus net om teen die einde van die dag te ontdek dat julle in mak dienaars en lammertjies van ’n uitbuitende sisteem ontaard het. . . lol. . .” 

Dié tipe afhanklikheid en rolle wat brose mense gelate aanvaar terwyl skreiende ongeregtigheid met vlieënde vaandels gekweek word.

Is dit nie dalk die teleurstelling in God se stem wat ons elke oggend waarsku: “. . . ek behoort nie aan jou of hierdie aarde nie, maar aan Hom wat deur Sy liefdevolle ontferming alles moontlik maak”?

Sting het dit destyds ’n bietjie anders verwoord met sy liedjie Fragile, “. . . on and on the rain will say. . . How fragile we are. . .”

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer