Laat die kamera kliek!
Vyf jaar gelede het ek ’n kolom geskryf oor ons uitgebreide familie se fotosessie en al die drama wat daarmee gepaard gegaan het.
Om ’n vinnige terugblik te gee: Met my dogter se heel eerste fotosessie was sy tien dae oud (sy is nou 12). Dit het nie fantasties verloop nie, want sy wou niks weet van slaap nie. So, daai oulike foto’s van die baba wat opgekrul en snoesig lê en slaap, het nie gebeur nie.
’n Paar jaar later kuier Ouma Anna hier en ons reël ’n fotosessie vir die familie, sommer by ons huis. Maar ons prinsessie wat toe al vier is, wil net mooi niks weet van hierdie affêre nie. Einde laas, het ons darem ’n paar kiekies waar sy so effens glimlag.
En toe kom die sessie van vyf jaar gelede: Seker die ergste. By die venue aangekom, begin ons “drama queen” se wange opblaas. Sy is ontevrede oor alles: Die wind, die weer, die reën en die familie wat volgens haar “laat” is. Die kameras is opgestel, die beligting is reg, almal lyk mooi en ons begin “pose” – sonder die dikbekkie. Uiteindelik begin sy ontdooi en kom sku nader.
Net toe ons reg is vir ’n tweede poging, lui skoonsus se pa se foon: ’n Treinspoor het verspoel en uit die aard van sy werk moet hy na die skade gaan kyk. En toe gly een van die kleintjies van ’n stoel af en kap haar kop. Gelukkig nie hospitaalsake nie, maar hard genoeg dat sy ook nie meer vir hierdie gefotonemery lus is nie.
Fast forward na Februarie 2025. Dis wragtie die eerste keer wat ons weer kans sien vir die petalje.
Hierdie keer het die familie se fotograaf gesê hy wil vir ’n slag ook voor die kamera wees eerder as agter die lens, so daar is eers vir ’n fotograaf gesoek wat bereid was om ons almal (in een groep, en dan die verskillende gesinne, en die verskillende formasies met oumas, oupas, sibbe, ens.) te kiek.
Gelukkig het skoonsus verlede jaar ’n Black Friday-aanbod raakgeloop en die fotograaf het ingestem om ons almal vinnig vas te vang.
Ná vreeslik beplanning en ’n rondskuif van datums– het ons nog ’n sessie aangedurf. Die uitgebreide familie het immers die afgelope paar jaar, wel, uitgebrei met twee kinders onder twee wat nou ook deel is van die pret.
Soos die vorige kere het ons weer verwag dat een van die kinders nie gaan saamspeel nie – hulle wissel immers van 14 jaar tot 14 maande!
Daar is vir ons ’n kleurpallet voorgestel. Die skonergeslag se hare is gedoen, grimering lyk mooi en die lippies is rooi.
Die Vrydagmiddag is dit sulke tyd. Ons moet 16:00 by die Avisdam wees. ’n Woeste reënbui sak oor die hoofstad uit (nes vyf jaar gelede), maar gelukkig gee ons Namibiërs mos nie om vir ’n paar wilde druppels nie.
Tog was die foto-gode by ons. Dit was net die twee heel kleintjies wat nie vreeslik opgewonde was om afgeneem te word sonder op mamma se heup te wees nie, en dan my sesjarige nefie wat op elke foto (behalwe een!) sy tong uitsteek soos ’n wafferse “rock star”.
Die ergste skade was seker aan almal se tekkies wat die modder moes trotseer.
Andersins het 2025 se fotosessie vlot verloop en nou is die grootste probleem watter foto’s moet gedruk word om aan te sluit by die versamelings op ons mure.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie