Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Kyk verby die staking

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Henriette Lamprecht

Dis moeilik om Tsumeb, met die chaos wat nou daar heers, te vereenselwig met ’n dorp wat lank gelede die middelpunt van ’n kind se bestaan op Otavi was. Iewers het dit maar altyd iets geword om na uit te sien. Hier was ’n gróót swembad, eindelose lanings flambojant- en jakarandabome, ’n rolprentteater en ’n atletiekbaan met ’n pawiljoen vanwaar ma en pa jou atletiekaspirasie kon dophou.

Dit was die swartbord waarop van die grootste oomblikke in haar lewe met hoofletters geskryf is en vir die skrywer het dié boomdorp nog altyd mooi onthou’s uitgelok. Dis hier waar haar eerste asemteug in die landdroskantoor se register van geboortes aangeteken is. Dis hier waar sy beloof het om na ’n kwarteeu haar van te verander met ’n mevrou vooraan. Dis hier waar sy uit ’n vliegtuig geval het.

In die grootword-dae op Otavi was dit op Tsumeb waar die eerste keer kennis gemaak is met ’n rêrige rolprentteater. Die tuisdorp het nie een gehad nie en een maal per maand is die eetsaal van die koshuis en fliek kyk teen ’n groot doek teen die muur verruil vir wegsakstoele en ’n yslike skerm met die rolprentkameras iewers agter versteek. Hier het Jamie Uys se Funny People ure se genot verskaf met bobbejane waarvan die koppe begin draai het van te veel maroelas eet en varsgebakte koeke wat te vinnig op die rolband beweeg net om later stukkend op die grond te eindig.

Die klub se swembad was die ander aantrekkingskrag. Om ’n yslike “bom” in dié swembad te maak, was dié hoogtepunt in ’n Otavi-kind se bestaan.

Buurdorp Kombat het weer gespog met die Rietfontein Romery se ontspanningsaal en swembad. Die ontspanningsaal het nie met wegsakstoele en versteekte rolprentkamera’s gespog nie, maar hier is gefliek met méning.

Die beelde wat die rolle rolprent uitgespoeg het op die groot wit muur, het dieselfde lag en huil as Tsumeb se “moderne” rolprentteater uitgelok. Al verskil was die feit dat daar baie meer pouses in hierdie fliek was. As die beelde op die muur begin spring het en die held begin klink asof hy te veel van Jamie Uys se maroelas in het, is die ligte op die daad aangeskakel en ’n pouse is aangekondig. ’n Paar minute later het wie ook al dié aand in beheer van die kameras was, die einde van die kort pouse aangekondig en die fliek kon weer begin.

Soos ’n inwoner van Tsumeb dit ’n paar weke terug aan my gestel het. “Hier lééf ons nog.” Mag dit ten spyte van al die stakings, nie verander nie. – 29 Augustus 1996

Kommentaar

Republikein 2026-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer