Charlotte Beukes-Muundjua
Charlotte Beukes-Muundjua

Kronieke van die skoolvakansie

Dis weer sulke tyd.

Skoolvakansie. ’n Welverdiende blaaskans vir onderwysers en skoliere.

Maar dit knaag ’n massiewe gat in ouers se beurse. Die broodblik bly op haar knieë, sy word in ’n japtrap uitgeput! Dit peusel heeldag nes ruspers op ’n plantasie. Koskas anoreksiek!

Die yskas se deur kyk met “alweer-jy-oë”, want wat is nou anders in die yskas dan 10 minute gelede?

En die vermetelheid om dit toe te klap asof Queen-yskas haarself hervul.

Die peanutbutter-bottel dolleeg maar langs die kante lyk dit vol. Hoe kry kinders dit reg en waarvoor ’n leë ding terugsit in die kas? Die botter word gebruik met ’n groot gat in die middel, smaak ’n mynwerker het daar gedelf. Hoekom nie egalig gebruik met ’n bottermes, nie ’n STEAK MES nie, gons!

Tamatiesousbottel doen gimnastiek, sy staan gat-om-kop in bestek van een week. Die kragboks menstrueer . . . alweer! Meer rooi dan groen.

Mev. Uiras is kapoet en dis maar 11 uur in die oggend. Haar selfoon warm gebel met klagtes en versoeke – “Ma, die melk is klaar. . ., Ma bring brood en chips saam én Wild Island-sap; ons soek nie weer daai flou creemy-sap nie”.

“Ma, ons is bored, kan ons vanaand Joyful Noise toe gaan en dan pizza optel... ?”

Ma, ma, maaaaa. . .

Die skool het gesluit vir ma se ergernis. Ma voel horingdroog gesuig. Bel vir ’n slag julle pa, hy pay in elk geval drie keer meer as ek.

Goed en wel met die nimmereindige koslys.

Die energieke siele se dag ingesluk van Tik-Tok en YouTube.

Die leë toiletrol lê op die vloer en langsaan staan die vol rol. Almal het lam polse om net die rol te vervang. Die tandepaste se prop lê op die vloer, ’n vuil vloer. Die mop in gister se Albex-water pleit vir skoon water.

Ja, skoolvakansie laat jou jou kinders se versteekte huishou-talent ontdek en nog veler talent as hul lui streke.

So hoop ’n hele dag se vuil skottelgoed op; daar’s meer skottelgoed in die wasbak dan kos in die kas.

TV speel heeldag al kyk hulle nie, dié werk seker op suurstof.

Skielik is dit 5 uur. Skottelgoed word woer-war gewas

in water waarvan skuim hoog staan; alle frustrasie word mos op die Sunlight Liquid-bottel uitgehaal. . . en ma se beurs!

Een, twee, drie en die berg skottelgoed is netjies gepak op afdroograk.

Jy kom van die werk, hoogs bedonnerd, en wie groet jou? Spitskoppe op die droograk! En daardie vraag:

“Het ma iets lekker saamgebring? Ons los maar vir Joyful Noise vir payday; dan doen ons net movie night met snacks. Dis mos ’n goedkoper plan, neh?”

Wow, hulle doen my kwansuis ’n guns om tuis te bly.

Die hond se waterbak is dolleeg nes my bankrekening.

Ons kry die nuus van ’n skoolmaat wat oorlede is.

Skielik vergeet mev. Uiras die uitroeispul en geniet ’n vredevolle nag met haar knaagdiertjies.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer