Kop onder die water
So vertel sy oupa vir hom hoe die manne destyds geswem het. . . sonder suurstof of enige van die fancy apparate wat almal deesdae gebruik.
“Ek kan swem. . .” kom die parmantigheid van ’n 23-jarige finalejaarstudent wat op pad oorsee is. Die ou man sug toe hy vir ’n oomblik weer dieselfde onkunde en dreef bespeur wat hy in sy eie seun gesien het.
Newton se appels wat van geslag tot geslag val en om een of ander rede nooit juis beter insigte bring nie.
“Ek praat van die lewe en liefde. . . diep waters. . .” word die gesprek in ’n rigting gestuur.
“Oupa, ek het nie juis tyd vir sulke dinge nie. . . ek gaan my graad klaarmaak. . . vir drie jaar oorsee gaan werk. . . terugkom, ’n besigheid begin en. . .”
Daar word diep aan die pyp getrek en peinsend in ’n rigting getuur asof sy kleinseun se geduld iewers op die horison gaan verskyn.
“Hoe gaan dit met die rooikop wat jy een vakansie wou genooi het?”
Nog ’n sug en antwoorde wat ontwykend op die horison hang.
“Sy gaan aan met haar lewe. . . het ’n werk in Johannesburg gekry en. . .”
Tye het regtig verander en die oppervlakkige spoed waarteen die lewe beweeg, is verbysterend dink die ou man terwyl hy ritmies die skilfers uit sy grys baard stryk.
“Het jy geveg vir haar?” kom ’n onverwagse, maar baie akkurate hou wat die jong man effens laat steier.
“Nee, niemand het baklei nie en daar was niemand om mee te baklei nie, nie sover ek weet nie!” vererg hy hom terwyl hy voel hoe iets wat hy die afgelope maande probeer onderdruk en beheer, begin loskom.
’n Swaar en swanger stilte beweeg tussen die ouderdomsverskil van 60 jaar en al die vrae en antwoorde kom maak vir hulself plek in ’n ongemaklike gesprek wat nêrens heen wil gaan nie.
“Nee, ek het nie,” grom die onervare hart met ’n moedelose uitdrukking wat getuig van teleurstelling en verwyte.
Die ou man glimlag. Sy taak gaan dalk nie so moeilik wees nie.
“My liewe, mens-bloed van my bloed. Die manne wat kan swem, is die manne wat bereid is om hul koppe onder die water te druk. Daai pêrre was bewus van die geveg. . . hulle het geweet dat wanneer dit by ’n nooi kom, daar altyd ’n geveg is – ’n geveg vir haar hart. . . en teen ’n vyand wat jy nie kan vang nie,” laat die grysaard ’n stortvloed van wysheid los op ’n verstand wat weet hoe om somme te maak en nog altyd gesukkel het met sinne.
“. . . in my tyd het ons nie baie gehad nie en dit was nie nodig nie, ons het geweet wat saak maak en geveg vir dit. . . ons koppe was onder die water. So laat sak daai kop van jou en begin veg, nie vir dit wat die wêreld van waarde ag nie, maar wat vir jou hart van belang is.”
Die jong man haal diep asem terwyl die laaste sonstrale hom vir oulaas herinner aan twee dik, koperbruin vlegsels. . .
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie