Koffiedrink en mensekyk
Ek sê maar net 30 jaar gelede
Sy is net so anderkant dertig. Stewig gebou. Ma van twee. Rooi in die gesig swoeg sy om haar twee woelwaters in toom te hou.
Die een wys huilend met ’n vuil voorvingertjie in die rigting van ’n speelgoedwinkel. Die ander, met ’n gepynigde uitdrukking op die gesiggie, staan en rondtrippel met albei hande tussen die bene gedruk.
Haar onderrok hang uit, maar sy kom dit nie agter nie. Paai die kinders. Soek ’n kleedkamer. Belowe om netnou in die speelgoedwinkel te gaan rondloop. Net nog ’n dag in die lewe van ’n ma.
Aan die oorkant van die straat staan ’n gryskopoom. Netjies aangetrek met ’n naweektas in die hand. Probeer so nou en dan ongemerk op sy horlosie kyk.
Ek sit vasgenael. Staar met ken in die handpalm by die koffiewinkel se venster uit. ’n Kenmerkende houding as ek besig is met twee van my gunsteling-tydverdrywe: Koffiedrink en mensekyk. Die koffie voor my is vinnig besig om koud te word.
’n Sakeman, donker pak, donkel bril, donker aktetas, stap met die kenmerkende vinnige sakemanspassie by die winkel verby. Mense op die sypaadjie maak onwillekeurig vir hom pad. Hy gaan staan skielik. Kyk na die koffiewinkel. Swig. En storm binne vir ’n vyfminute-koffiepouse. Hy neem plaas by ’n tafeltjie in die hoek en bring ’n selfoon te voorskyn. Sy vingers voer ’n vinnige danspassie op die instrument uit en kort voor lank gesels hy syfers met ’n sakekollega.
Ek draai terug na die venster. Die gryskopoom staan steeds en wag. Vir wie? wonder ek en neem ’n sluk van die lou koffie.
’n Paar toeriste drentel verby. Geklee in Adventure in Africa-klere en sopbordhoedjies. Kameras en verkykers het nie agterweë gebly nie. Een dra ’n gevlegde mandjie, nog een ’n houtkameel en ’n derde ’n houtolifant met ’n la-ang slurp. In gelid staan die drie besoekers uit Europa met hul soeweniers van Afrika.
Ek onderdruk ’n glimlag. Nie vir my lawwe gedagtes nie, maar vir die tannie wat om die hoek aangestap kom. Hoekom dit so is, weet ek nie, maar daar is mense wat só van ’n sekere era hou dat hulle net daar vassteek – die res van die wêreld kan maar op eie stoom voortgaan. Die tannie se vlinderbrilletjie en byekorfhaarstyl vertel ’n eie storie. Die pienk crimplene-rokke is al blinkdun op ’n paar plekke. Plastiekkrale om die nek en platformskoene met strêppies en gespes om die enkels voltooi die prentjie.
Eintlik lyk sy heel oulik, besluit ek.
Die ma en twee kinders kom weer verby. Haar onderrok hang ’n entjie verder uit. Een kind sit met ’n betraande gesiggie soos ’n bosapie op haar heup.
Drie pakkies en nog ’n kind is aan die ander hand. Sy kyk verlangend na die koffiewinkel. Ek kry haar ineens jammer. Kyk haar agterna hoe sy met kinders en pakkies oor die straat sukkel. Net nog ’n dag.
Die sakeman is klaar met sy koffie en sy selfoon. Hy draf na buite en stamp in sy haas ’n hoogs verliefde paartjie onderstebo. Mompel ’n vinnige verskoning en draf verder. Die twee verliefdes het dit nie agtergekom nie. Hulle kyk in mekaar se oë en glimlag. Verlore in ’n wêreld waaraan ons ander nie deel het nie. ’n Motor hou stil aan die oorkant van die straat. ’n Glimlag sprei oor die gryskopoom se gesig. ’n Vrou klim uit en begin verduidelikend beduie. Hy glimlag steeds, skud sy kop en hou sy arms wyd oop vir twee kleintjies wat intussen uitgespring het en laggend na hom hardloop. Saam klim hulle in die motor en ry weg. Ek glimlag ook.
My koffie is klaar gedrink. Ek stap uit en word self deel van die sypaadjieverkeer. Stap skouer aan skouer saam met die ander my eie paadjie.
Iemand het eendag gesê die lewe is vir hom soos ’n moeilike som waarop ons almal ’n eie antwoord probeer gee. Ek wonder of hy ook ’n koffiedrinker was?
– 22 Augustus 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie