Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Klanke en syfers, hoe mooi is dit nie

Mandy Rittmann
Chrisna Beuke-Muir

Liewe Genoot

Watter van die volgende ag gawes het die Maker aan jou gegee? Moenie skaam wees nie. Jy ken jouself.

Meer as 40 jaar gelede het Howard Gardner in sy werk “Frames of Mind: Theory of Multiple Intelligences”(1983) gesê dat intelligensie nie slegs één enkel-vermoë is nie, en het ag tipes intelligensies onderskei: linguisties (“word-smart”), wiskunde-logika (“number/reasoning smart”), ruimtelik (“picture smart”), musikaal (“music smart), liggaamlik-kineties (“body smart”), interpersoonlik (“people-smart”), intrapersoonlik (“self-smart”) en natuurwetenskaplik (“nature smart”).

Volgens Gardner beskik ek en jy oor al ag hierdie intelligensies, maar ons verskil individueel van mekaar op grond van ons genetiese raamwerk en ervaring. Oor twee van hierdie tipes, naamlik die musikale en wiskundig-logiese, wil ek vandag met jou gedagtes deel. Hulle vertoon ongelooflike verwantskappe.

Musiek ... wiskunde ... syfers? ... Ja tog. RITME! Dit is die eerste ooreenkoms waarby ek uitgekom het. Gardner omskryf musikale intelligensie as die vermoë om (o.a.) toonhoogte, ritme en klankkleur te onderskei, met ‘n gevoeligheid vir geluid en vibrasie. Behalwe dat mense met musikale intelligensie - soos hopelik die meeste ander sterflinge – musiek kan waardeer, kan hulle verder verskillende note herken en benoem, en hulleself uitdruk in terme van ritme en melodieë.

Toe ek die naweek vriendin, Marian se Festival Line up bywoon om Take Note se 35ste verjaardag te vier, dink ek opnuut daaroor dat musikante en wiskundiges dinge in gemeen het, o. a. ‘n vertroue in die herkenning van patrone en simbole. Beide dissiplines maak gebruik van logiese stappe om abstrakte konsepte uit te druk. Die term ‘breuke’ (wat ’n naarkol op ’n normale skoolkind se maag kan veroorsaak), is beslis deel van die patrone in musiek as ’n mens dink in terme van ritme: een twee drie, een twee drie (wals) en een twee, een twee (mars). Dit is juis met hierdie patroonmatigheid wat ingemeng word wanneer die musikant improviseer of nuwe musiek komponeer: die bekende patrone word aangewend, maar gemanipuleer.

Ook word ’n sisteem van unieke simbole in beide vakgebiede gebruik ter wille van inligting: musikante gebruik bv. note (), rustekens, ens. terwyl wiskundiges bewerkingsimbole (=, >, ( ), ≠, x2, ens.) gebruik.

Beide wiskunde en musiek het dus ’n struktuur en ’n stel logiese reëls waarbinne gewerk word, en beide vakrigtings word beskou as kunsvorme waarbinne kreatiwiteit moontlik is. Net soos wat ’n musikant ’n nuwe stuk kan komponeer, kan ’n wiskundige ’n nuwe stelling bewys.

Die probleem is uiteraard, Genoot, weer eens my beperkte menslike perspektief: hoeveel is daar wat nog nuut onder die son bewys of geskep kan word? Kan daar ooit weer sulke mooi klassieke musiek geskryf word soos wat die klassieke meesters gedoen het? Of sal daar ooit weer iets soos byvoorbeeld Queen se Bohemian Rhapsody geskep kon word? Of sal iemand in die toekoms weer met iets so opspraakwekkends as Einstein se relatiwiteitsteorie vorendag kan kom? Hoewel my bek oophang oor al hierdie menslike ontdekkings en skeppings, wil ek as gebore optimis op my vrae hierbo antwoord: Ja, ja en nogmaals ja. Terloops, een van Albert Einstein se bekende aanhalings is: “Wenn ich nicht Physiker wäre, wäre ich wahrscheinlich Musiker. Ich denke oft in Musik. Ich lebe meine Tagträume in Musik. Ich sehe mein Leben in Bezug auf Musik. Ich bekomme die meiste Freude am Leben aus meiner Geige".

Genoot, ek wou eintlik probeer verstaan hoekom musiek my so gelukkig maak. In watter deel van my lyf word ek geraak? Ek het glad nie daarby uitgekom nie. Kan ons volgende week die gesprek voortsit? Dink solank oor die volgende: wat is die Afrikaans vir “perfect pitch”? Marian en Christine, dankie vir ‘n naweek vol vreugdeklanke en -vibrasies.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer