Dieter Ian Maree
Dieter Ian Maree

Kies die Liefde

Sê maar net
Dieter Ian Maree

So vertel sy my van die gewigtige podcast en haar mees onlangse huiwering om op Facebook te kuier. 

Teen nou al weet ’n groot gedeelte van die bevolking dat dit tipies die gedrag is van iemand met ’n ongerehabiliteerde verslawing – “stalker”-simptome!

“Dis nie net die storie nie, maar die manier waarop sy dit oorgedra het,” skop sy af met iets wat ligtelik my aandag prikkel.

“En deesdae is almal mos nou dating gurus vol wysheid of die woord van God,” sukkel ek om my skielike en onverklaarbare irritasie te onderdruk.

“Nee man, die girlie het definitief diep gemyn vir daai stukkie goud,” kom sy tot die naamlose dame se verdediging.

Ek skud my kop terwyl ek aan ’n manier dink om hierdie gesprek kort te knip sonder enige verdere aggressie, want ek wil nog steeds ’n goeie indruk skep.

“Sy vertel van drie bejaarde mans wat op ’n dag daar vreedsaam buite ’n tent gaan kuier het. Die vrou wat woonagtig is in die tent nooi hulle toe om hulle posisie na binne die tent te verskuif. Een van die wyse manne antwoord haar toe op ’n baie geduldige manier toe hy homself en sy twee maters aan haar bekend stel.”

Voor ek myself kon keer verstewig ek toe my greep op my metgesel se woorde en haar verbeeldingryke vermoë om stories te vertel en uit te beeld met die takt van ’n talentvolle graad 3-onderwyseres 

Die drie mans gaan dus voort om hulle as Rykdom, Sukses en Liefde voor te stel, met elkeen wat op sy beurt glimlag en groet.

Later die aand vertel sy vir haar man van die drie gaste wat sonder veel moeite haar dag opgehelder het, met haar man wat dieselfde energieke en sielsversadigende gloed oor sy hele lyf voel.

Die drie besoekers daag die volgende dag weer ongenooid by die tent op en hierdie keer gaan sy hulle nie sommer laat gaan nie, dink sy aan haarself.

Weer eens word daar gegroet en glimlag terwyl sy vir die ideale geleentheid wag om hulle weer na binne te nooi. Toe sy uiteindelik die krag en vaardigheid bymekaargeskraap het vir haar planne, skop Rykdom die gesprek af met ’n vraag oor hoe hulle daagliks kan oorleef met die ekonomie wat so swaar trek.

Die oompie wat die titel van Sukses dra, vra vir haar of sy enige titels of professionele prestasies in haar leeftyd bereik het en Liefde ag dit wenslik om vir haar breedvoerig die rede vir die besoek uit te lê voor hulle haar uitnodiging aanvaar en na binne beweeg.

Met Liefde aan die woord besluit die ander twee om hom telkemale te onderbreek met nog ’n vraag oor haar en haar man se akademiese of professionele prestasies of ’n vraag oor hoekom hulle nog nie ’n “side hustle” oorweeg het nie, d.w.s. ’n addisionele bron van inkomste.

Later die aand aan tafel vertel sy weer vir haar man en dogter van die drie kuiergaste en die feit dat daar maar min geleentheid was vir Liefde om aan die gesprek deel te neem. Haar man en dogter luister na haar storie met weinige belangstelling en ietwat van ’n verveeldheid terwyl haar dogter ’n boodskap op haar selfoon stuur. 

Ná ’n lang dag stel haar man sy vurige frustrasie ten toon met dié vrae.

“. . . so hulle was nog nie hier binne nie en jy het nog nie uitgevind by een van hulle hoekom hulle nie jou uitnodiging tot dusver aanvaar het nie?”

Dalk moet sy vir Liefde vra hoekom hulle nie haar uitnodiging wil aanvaar nie, aangesien hy nog elke keer stilgebly het as Sukses of Rykdom iets te sê het. Sy besluit daar en dan om meer moeite te maak om vir Liefde aan die woord te kry!

Met hulle aankoms twee dae later, rig sy die vraag aan Liefde oor hoekom hulle tot dusver haar gasvryheid verwerp het.

Liefde weeg sy woorde versigtig voor hy haar antwoord. 

“Daar is ongelukkig nie plek vir ons al drie in julle nederige woning nie. Julle sal ’n besluit moet neem oor wie van ons kan ingaan – Liefde, Sukses of Rykdom.”  

Die aand aan tafel kan sy nie wag om Liefde se antwoord met haar man en dogter te deel nie en om by hulle uit te vind vir wie sy na binne moet nooi.

“Sukses!” roep haar dogter uit. 

“Ons kan doen met ’n bietjie rykdom,” sê haar man ook sugtend.

En dis juis op hierdie punt wat ons graad 3-onderwyseressie die handrem optrek en vir my dringend vra vir wie sou ek gekies het?

“Ahmm,” is al geluid wat uit my mond kom terwyl iets in my binneste heelhartig met haar man en dogter saamstem.

“Ons kan beslis doen met ’n bietjie meer sukses en rykdom!”

Nie haar man of dogter vra egter vir haar vir wie sy sou kies nie, maar uit nuuskierigheid en ’n sin vir avontuur, besluit sy sonder om ’n woord te uiter om vir Liefde te kies.

Die volgende dag nooi sy vir Liefde met minder moed as wat sy die vorige aand gehad het na binne. Liefde stryk sy grys baard, glimlag en beweeg stadig na die ingang. 

’n Paar minute later merk sy iets op. . . Sukses en Rykdom is ook nou onderweg om haar drumpel oor te steek – met ’n sekere blydskap en selfvertroue.

“Hokaai,’ roep sy uit “ek dog daar is net plek vir een van julle!” Sukses en Rykdom kyk na mekaar voor hulle haar antwoord.

“Daar waar Liefde gaan, het ons geen keuse as om hom te volg nie.”

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer