No Image Caption

KI ontneem ons van ervaring

Iréne-Mari van der Walt
Daar is net meer as ’n maand oor voordat ChatGPT en sy houermaatskappy, OpenAI, drie jaar in die publieke domein sal vier.

Met hierdie bekendstelling het paniek oraloor die wêreld posgevat oor die toekoms van ons beroepe, ons verhoudings en ons as mensdom, maar omtrent twee jaar later begin mense hierdie tegnologie bevraagteken. Beeldmateriaal van yslike store vol rekenaars, dorpe wat byna geheel en al sonder water is weens datastore in die nabye omgewing (omdat die water gebruik word om die rekenaars te verkoel) en beeldmateriaal wat die lugbesoedeling vanaf een van hierdie datastore wys, sien die lig.

Inwoners van Memphis in die VSA is die herrie in vir Elon Musk, want dit is glo sy kunsmatige intelligensie (KI) wat hul lug besoedel.

Inwoners van Georgia in die VSA verwens Mark Zuckerberg omdat sy datastoor glo gans te veel water gebruik en hulle, as inwoners, tevrede moet wees met uiters lae waterdruk in hul krane, en die water wat wel daar is, glo besoedel is.

Ek gaan nie probeer om vir enigiemand te preek oor klimaatsverandering en hoekom dit vanjaar in Oktober aansienlik warmer is as Oktobermaand verlede jaar nie.

Navorsing het keer op keer vir ons gewys dat die impak van KI aansienlik wyer is as ons omgewing.

Mense gebruik minder van hul breinkrag hoe meer hulle KI gebruik, mense wat chronies met hul KI-kletsbot gesels toon minder empatie en sosiale vaardighede en diegene wat afhanklik is van KI om deur die dag te kom, is glo byna glad nie meer in staat om besluite vir hulself te neem nie. Hierdie is nie my mening nie – hierdie is die gevolgtrekkings van wetenskaplike navorsing.

Een ongewenste gevolg van KI wat ek dink ons miskyk, is dat dit nou intreevlakwerk oorgeneem het en dit dus jong professionele persone van hierdie leerkurwe ontneem.

In my bedryf, byvoorbeeld, hoef jong joernaliste nou nie meer te leer skryf nie, want hul tjommie Chat sal dit sommer vir hulle doen.

En as KI intreevlakwerk sonder moeite kon oorneem, sou ek gejuig het, maar die een probleem met KI is dat iemand nog steeds sy werk moet nagaan – en daardie persoon moet die nodige kennis en ervaring hê om al tjommie Chat se foute te kan raaksien en dit reg te maak. Ja, Chat maak ook foute. Dit mag jou dalk verbaas dat hy en alle ander KI-modelle selfs dinge heeltemal kan hallusineer – daarom gee hulle jou deesdae skakels waar jy self kan gaan ondersoek instel of die robot sy werk reg gedoen het.

Daarom kan KI baie werke nie 100% vervang nie – net soos rekenaars nie in die vroeë 2000’s elke sekretaresse in die wêreld se werk oorgeneem het nie, maar eerder gereedskap geword het waarmee diegene wat hierdie werk doen hul take beter, vinniger en geriefliker kon verrig.

KI, selfs op sy heel beste, is niks meer as gereedskap nie. Enige verdere verantwoordelikheid wat ons hierdie soort tegnologie mee wil opsaal, is heeltemal misplaas.

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer