Gerhardus van Grootfontein
Gerhardus van Grootfontein

KI in opvoedkunde: Oos-Wes, wat is bes?

Gerhardus van Grootfontein – Ek is gaande oor ChatGPT. Net eergister het ek ’n foto laat druk van Lord Byron en Oscar Wilde wat saam agter op ’n bakkie sit en worsbroodjies eet. Ek het sommer bietjie op die “bot” rondgespeel en die produk was hierdie beeld. Tegnologie het ’n wesenlike middel geword om met ons verbeelding en idees om te gaan.

Deepseek, die Chinese weergawe van ChatGPT, het die wêreld in 2024 geslaan. Hier in China is dit op almal se rekenaars, slimfone en tonge. Die lekker ding van Deepseek is dat dit gratis is, sonder enige beperkings – jy kan dit heeldag gebruik.

Hierdie kunsmatige intelligensie (KI) het vinnig op universiteitstudente se slimfone opgeduik. Studente gebruik dit graag! Dit help hulle met projekte, proeflees of soms net lekker gesels.

Meeste werkende mense hier in China gebruik dit in hul beroepe. Die wat in internasionale maatskappye werk, noem dat hul kollegas in Europa nie werklik KI vertrou nie. Die Westerlinge hou ’n meer skeptiese gesindheid teenoor die tegnologiese verskynsel in.

Hierdie skeptisisme is duidelik in die beleid van sommige Britse universiteite: hulle verbied enige gebruik van KI in projekte. Die universiteite meen dat studente self moet dink, skryf en taal versorg. Indien studente hierin faal, word die werk as plagiaat beskou.

Daar is inderdaad slaggate waarvoor ’n mens versigtig moet wees. Wanneer daar ’n oorgebruik van KI plaasvind, sal studente en leerlinge ’n afhanklikheid kweek en so hulle eie dinkkrag verloor. Dit kan ontwikkeling kniehalter. Maar, wanneer dit verantwoordelik aangewend word, is dit ’n dinamiese toestel.

Daar word gereeld navorsing gepubliseer oor hoe KI met pedagogie versoen kan word. Dit kan leerlinge help met persoonlike vrae en verduidelikings oor verskillende onderwerpe. Byvoorbeeld, dit kan wiskundeprobleme stap vir stap oplos of letterkundige konsepte verduidelik. Omdat hierdie tegnologie 24/7 beskikbaar is, kan dit ondersteuning bied vir leerlinge buite skoolure. Meer, met die regte benadering, kan dit kinders help wat sukkel op skool.

’n Wonderlike funksie van hierdie tipe KI-toestelle is hulle vermoë om karakters of rolle aan te neem. ’n Student of leerling wat vir ’n debatkompetisie voorberei kan teen die “bot” redeneer en hulle eie redenasievermoë en denkwyses beoefen en uitbrei. Of, ons outjies wat lief is vir geskiedenis kan gesprekke met historiese figure voer. Die “bot” neem die karakter en hul stories aan. Jy kan saam met Napoleon ’n koffie drink. Hoe cool is dit?

Ek dink nie die Ooste se tegemoedkomendheid teenoor KI is net goed nie; en ek dink die Weste se skeptisisme is gegrond. Ek voel wel ons moet dit as ’n verantwoordelike ondersteuningsmiddel gebruik in plaas daarvan om dit te vrees. Die perde is reeds voor die wa gespan: daar is geen terugkeer nie. KI is al deel van ons lewens en word al hoe invloedryker.

Hoekom dit nie meer in skole en opvoedkundige instansies gebruik nie? Skole sal slimfoonbeleide moet hersien, net soos hulle met sakrekenaars gedoen het in die jaar van toet. Of, ’n alternatief is om geskeduleerde KI-klasse te hê in ingerigde rekenaarsentrums. Die vraag is, kan die gemiddelde Namibiese skool hierdie tipe geriewe bekostig?

Ongelukkig is KI weer eens net toeganglik vir studente en leerlinge van ’n sekere ekonomiese agtergrond. Jy moet ’n slimfoon of rekenaar met toegang tot die internet hê om met hierdie toestelle om te gaan. Dalk kan KI ons help om hierdie probleem ook uit te sorteer.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer