Kerrievis
Marlise Izaaks – My voorbereiding hierdie jaar vir ons Kerrievis vir die Paastyd was ook net betyds.
Net betyds die vars vis gekry vir die groot werk om te bak en dan net betyds in te lê om ten minste drie dae te preserveer tot Goeie Vrydag. My voorbereiding was dalk op die nippertjie, maar Goeie Vrydag se voorbereiding kom al lank aan, want dit was God se perfekte plan.
Eers wil ek net empatie toon met my medevroue en mammas. Ek het die meeste begrip vir die warboel van gedagtes en emosies waarin jy soms kan vasval. Maar sjoe, wat ’n supermens is jy nie om altyd alles reg te kry en nog in beheer te lyk nie. Voorbereiding is soms nie ’n opsie nie, jy vat dit soos dit kom, jy waag dit aan en jy wen!
Terug by die kerrievis. In ons bruin kultuur word die voorbereiding vir kerrievis elke jaar etlike dae voor die tyd gedoen, want geen vleis word op Goeie Vrydag voorgesit nie. Die dissipels was immers ook vissers en toe later vissers van mense.
Goeie Vrydag is soos ’n Sabbat, geen werk en die vroue kry ook verlof van kosmaak, want die kerrievis is klaar voorberei. En die geheim is verseker in die sous. Nie te suur nie, net genoeg soet met ’n lekker masala-smoortjie.
Terwyl ons die week tot Paasfees deurstap, het elkeen se pad vermoedelik anders gelyk. Elkeen se voorbereiding ook anders en dalk word Goeie Vrydag en Jesus se opstanding nie herdenk nie. Tog is voorbereiding ’n goeie manier om ’n doel te bereik. Jesus het ’n groot doel voor oë gehad. Niemand kon dink sy voorbereiding wat die bloed in sy sweet openbaar, sou lei tot ons grootste bevryding. Sy doel, ons onskuld.
Soms weet niemand van jou voorbereiding, jou bloed en sweet, jou harde klippe en swaar skouers nie. Hoe lank was jou voorbereiding tot jy uiteindelik in jou roeping kon staan? Wat het dit jou geverg om elke dag brood op die tafel te sit en jou kinders op die skoolbanke te hou? Mense sien net die resultate want in jou voorbereiding was jou einddoel duidelik.
Vir die persoon wat nog twyfel, is ’n beradingsessie dalk goeie voorbereiding. Vir die mamma wat talle rolle moet vertolk, kan elke oggend se stiltetyd die voorbereiding wees wat haar dag rigting gee. Vir die werklose is dit dalk om stil te word en jou passie eers te ontdek voordat dinge in plek kan val.
Ná ure se gebak en lepels vol geproe vir die regte balans van kruie, is my voorbereiding vir die kerrievis klaar. Eers ná drie dae op Goeie Vrydag wanneer ons gedagtes kruiswaarts trek, is die kerrievis gereed en op sy lekkerste. Die seer voete en rug wat met die voorbereiding gepaardgegaan het, is beslis die moeite werd.
Wanneer ek dink aan Jesus se voorbereiding en God se opoffering, is dit meer as die moeite werd. Wie kon sy pad van voorbereiding stap om ’n hele wêreld ewige vryheid te gee? Jy staan ook nou in jou voorbereiding vir jou ewigheid saam met Hom, ek vertrou joune is die moeite werd.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie