Kaas, wyn en weemoed
Seven Samurai! Dit is ’n film wat ek blykbaar moet kyk. Die lysie word al hoe langer op my foon. Citizen Kane. The Good, the Bad and the Ugly. John gaan net aan en aan oor flieks.
Wat dink jy is die beste drie films van alle tyd?
Ek weet nie. . .
Op die lang tafel, tussen herfsblare, staan die bottels rooiwyn. Van die bottels is leeg, ander het darem nog ’n slukkie hier en ’n druppel daar.
Dit is laataand in Tchin-Tchin, die Franse restaurant hier in Dalian. Julian, die Fransman, is al plaaslik hier in China. Hy en sy Chinese vrou, Cici, het die restaurant jare gelede begin. Hulle het ’n lewe gebou met twee pragtige dogters.
Verlede jaar het ’n man met vlerke, gesluier in swart, Julian se geliefde Cici met ’n tango uit sy lewe geneem. Stukkie vir stukkie, brokkie vir brokkie is Julian besig om die skerwe van sy hart weer aanmekaar te lym. Vir elke drie trane wat hy stort, probeer hy een tree vorentoe gee.
Vanaand is die eerste keer sedert Cici se laaste dans wat Julian weer ’n kaas-en-wyn by sy restaurant hou. Sy gewone kliënte, nee, vriende, is aan die klets en die kraai.
Linda het vir die Kersseisoen haar hare potblou gekleur. Haar wenkbroue is ook blou. So is haar naels, die juwele en die bloes. Linda is ’n borrelende bubbel-blou! Sy is van Indonesië en haar man Sandy is ’n Skot.
Langs Linda sit Aki, ’n Japanner. John met sy films is Amerikaans, sy vrou Wendy is Chinees. Afrika word deur my en Karel verteenwoordig. Die wêreld om een tafel.
Die gesprekke draai by kuns, kultuur en verlies.
Julian vertel vir my hy het die laaste tyd eers weer begin musiek luister. Hy geniet musiek en films. Die Lord of the Rings-trilogie is onder sy topdriefilms, want hy en Cici het die eerste film van die trilogie saam in die bioskoop gaan kyk.
“Films en musiek vind ons. Dit kom ons lewens binne sonder dat ons dit werklik opsoek. Dit is nie soos kuns of boeke wat ons doelbewus kies om te gaan kyk of om te lees nie. Musiek en films kom na ons toe oor die radio of stromingsplatforms.”
Dit maak vir my sin wat Julian sê. Ek het nog nie so daaraan gedink nie. Met moderne tegnologie, het ons ’n element van persoonlike kuratorskap verloor as dit by films en musiek kom.
Julian skink vir almal om die tafel ’n kelkie whisky. Ons klink ’n glasie. Tchin-Tchin.
Aki gesels oor sy pa. Die Japannese omie was verskriklik lief vir whisky. Die dag toe hulle die oom finaal in die krematorium groet, het hulle ’n groot houtvat whisky saam met die kis die vlamme in gestuur.
Die familie het seker gemaak die oom kan genoeg van sy geliefkoosde whisky aan die ander kant geniet. Die personeel van die krematorium het vir Aki gesê dit is die eerste keer dat hulle sulke sterk drankwalms in die fasiliteite het. Aki glimlag met ’n druppel verlange in sy glas.
Terwyl bittersoet gedagtes in my kop maal, kan ek steeds nie aan drie van my gunstelingfilms dink nie. Die wynbottels is nou dolleeg.
Die aand is al nag en Julian sit vir die gaste poeding in wegneemboksies. Hy doen dit altyd; ’n mens eet gewoonlik weer by die huis wanneer jy by hom gekuier het. ’n Ware gasheer, soos sy naamgenoot St. Julian, die heilige van gasvryheid.
Met poeding in die hand, terwyl my kooi roep, dink ek: samesyn en jolyt is onlosmaaklik verbonde aan verlies. Dit is twee ervarings wat so ver verwyderd van mekaar is, maar tog so interafhanklik. Verlies is swaar, want samesyn het liefde, vreugde en konneksie gebring. En samesyn is kosbaar, want verlies is onvermydelik
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie