Jou stem dra jou siel
René Hugo – Ek lees onlangs die bekende verhaal van die Israeliete se aanval op die dorp Jerigo.
Wat my opval is dat die soldate vir ses dae rondom die stad gemarsjeer het. En op die sewende dag moes hulle, met die laaste roete rondom die stad “hard skree”. Daarna het die mure van Jerigo omgeval. . .
Wat ’n wonderlike aanduiding van die waarde van die menslike stem. En dit laat my toe nadink aan watter rol ons stem (sonder die tradisionele meegaande rol van spraak en taal) werklik in ons lewe speel.
’n Mens se stem is vir elke individu uniek. As jy net na iemand se stem luister, kan jy dikwels sy geslag, ouderdom en selfs iets van sy persoonlikheid bepaal.
Wat veral interessant is, is dat stem-kwaliteit ’n goeie aanduider is van die plek waar jy grootgeword het. So byvoorbeeld het meeste boere rustige, sagte stemme. Ek kan gewoonlik alle Karasboere dadelik identifiseer deur net hul stem te hoor (onthou bietjie vir Jan Spies!). Hulle klink so sag en rustig soos die wye vlaktes waarin hulle woon.
Dink ook maar aan die storie van “My Fair Lady”. Daarin het die taalkundige, prof. Higgins, nadat hy die blommeverkoper die onaardse geluid: “Ah-ah-ah-ow-ow-oo!” hoor skree het, binne ’n paar vierkante meter bepaal in watter area van Londen sy grootgeword het!
Seker die belangrikste waarde van die menslike stem is dat dit – sonder die bydrae van woorde of gesigsuitdrukking – in staat is om emosies soos vreugde of hartseer uit te beeld.
Hierdie kwaliteit is natuurlik nie toevallig nie, maar hou verband met die wonderlike skepping van die mens se liggaam. Die limbiese sisteem in die brein, wat ons emosies beheer, skakel direk deur middel van spesifieke senuweebane met die mens se stembande.
So is ons stem op hierdie manier ’n wonderlike emosievolle instrument. Geen wonder dat een kundige verklaar: “It is the colour of voice that communicates to the listener, more than the words used, what the speaker feels.”
Meeste moeders sal saam met my stem as ek beweer: Wanneer my kind bel en hy sê net “Hallo, Ma”, weet ek dadelik hier is fout! – of dat iets baie lekker en spesiaal gebeur het.
Miskien, selfs meer as taal, word die mens se stem gebruik om emosionele variasies in sang en toneelspel uit te druk. Dit is dus ’n sterk instrument vir kunstenaars soos operasangers om die kwaliteite wat deur die stem uitgedruk word, te verstaan en te gebruik.
Geen wonder dat kunstenaars soos Maria Callas en Plácido Domingo wyd erken word as die wêreld se beste “opera-akteurs” nie!
My wonderlikste ervaring van die waarde van die menslike stem hou egter verband met iets baie spesiaal. ’n Klein dogtertjie wat feitlik totaal doof gebore is, het op eenjarige ouderdom ’n kogleêre inplanting gekry.
Gewoonlik word hierdie gerekenaariseerde gehoorapparaat so ’n maand ná die operasie aangeskakel. Soos ook in haar geval gebeur het.
Ná die aanskakeling het sy vinnig rondgekyk en dit was duidelik dat sy die onverwagse (nooit voorheen gehoorde) omgewingsgeluide, wel hoor. Sy het na die mense rondom haar gekyk en was duidelik onseker. Maar toe haar ma sê: “Hallo my Poppie, kan jy ons hoor?” het die kleintjie in trane uitgebars en haar arms na haar ma uitgesteek.
Sonder dat sy enige woorde verstaan, kon sy haar moeder se stem herken. . .
Wat ’n wonderlike gawe is die mens se stem. Dit laat mure omval, breek bande af, verbind vreemdes met mekaar, en sê, sonder woorde: “Ek is lief vir jou.”
En dan is daar ook die wonderlike gerusstellende woorde van Jesus: “My skape luister na My stem. . .”
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie