Jifrou het alles verstaan
Sy is die eerste heilige wat jy ontmoet die oomblik as jy Ma met nat oë koebaai sê en die klaskamer met die prentjies van Boet en Saartjie en die bakkies krale en bolle klei binnestap. Jou Jifrou.
Sy ruik die lekkerste. Sy is die mooiste van al die jifrouens. Vir die eerste keer begin mens wonder of Ma rêrig die enigste een is wat die mooiste rokke in die hele wêreld dra. En of dit net Ma se soene is wat op die knie se eina werk.
Dit is sy wat jou aan Hans Christian Anderson en die Grimm-broers bekendstel. Jy raak verlore in haar sagte stem wanneer sy vertel van die prinses en die padda-prins en ’n duisend-en-een nagte. Sy wys jou die prentjie van die son en laat jou s-o-n spel. En deel later in jou trots wanneer jy jou eerste boek op jou eie klaarlees.
Sy leer jou somme maak, optel en aftrek, die alfabet, die horlosie se lang en kort bene verstaan en ’n paar Engelse woorde, sodat jy meer as net “jes ênd nou” kan sê.
En jy stem saam met jou nuutgevonde maatjies dat daar niemand slimmer is as julle jifrou nie. Op daardie eerste benoude dag was daar Freynette wat jou ’n tou en ’n kraletjie in die hand gestop het, en jy het jou langs haar neergeplak en vir ’n vale begin ryg.
Daar was Wilmientjie wat so baie kon praat en die hoekie van die klas sommer vroeg in die jaar al goed leer ken het. En Lenetia wat die dag toe die jifrou die woord “televisie” op die bord skryf, gevra het waar die vissies is wat ons moet tel.
Ek onthou vir voor-op-die-wa Wicus wat die nar van die klas was. Vandag is hy ’n meneer in ’n groot skool. En daar was Fransie wat so bang geword het as jifrou die somkaarte uitdeel, hy homself natgemaak het.
Ons ander outjies het so uitgesien na dié hoogs amusante gebeurtenis. As jifrou na die rak met die kaarte stap, sou ons ander reeds begin omdraai en na Fransie se stoel kyk waar die straaltjie klaar sy koers langs die een stoelpoot af begin kry en om ’n groterwordende poel op die plankvloer te maak. Ons het nie gelag nie. Net verwonderd gekyk na wat Fransie doen.
Eers wanneer hy klaar was, sou ons die jifrou van die gebeurtenis inlig. En sy sou hom met nat broek en al optel en buitentoe vat en troos. Ek weet nie waar Fransie hom vandag bevind nie, maar twyfel of dit iets met syfers te doen het.
Dan was daar Pietie. Dit was al sy tweede jaar in graad 1. Hy het teen die einde van daardie jaar besluit ek sal die een wees met wie hy eendag gaan trou. Ons moes Kerskaartjies vir ’n spesiale iemand maak en in syne het hy sy hart teenoor my uitgestort.
My eerste liefdesbrief in bruin vetkryt met die woorde “aan die moeiste muisie” het my glad nie beïndruk nie.
Ek het huilend na jifrou gehardloop en sy het gelag en my teen haar vasgedruk en op ’n manier was alles beter.
Wanneer jy aan die einde van jou eerste skooljaar jou graad 1-sertifikaatjie met bewende hande ontvang.
Miskien was jy reg. Want jifrou het jou ’n soete eerste proeseltjie van die lewe gegee. Sy het jou geleer om op die gras te lê en prente in die wolke te soek. En stories te skryf oor kammaland. En te sing as jy hartseer is en met Liewe Jesus te praat as jy alleen is.
En miskien het jifrou geweet dit is al wat ons regtig nodig gehad het om in die moeilike lewe vorentoe te oorleef. – 1 Oktober 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie