Errol Hurter
Errol Hurter

Jannie en die duiwehok

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Jannie Sieberhagen, een van Oom Willie Sieberhagen van stoomhamerfaam se seuns, en ek was skoolmaats. Nou nie boesemvriende nie maar ons het ’n paar belangstellings gedeel. Soos om draadkarre te bou (en as jy hom nie kan bou met ’n “suspension” nie, was jy uit), kettiegevegte in die bloekombos teen Whitey en sy bende en “black bass” vang in die “musipale” kleidam bokant ou Lombard die magistraat, se huis. Dit was doodsake want het ou oom Dicker Langschmidt, die verkeerskonstabel jou daar gevang, was dit groot probleme. Daai dam was kroonwater, newwermaaind kroongrond. Snaaks genoeg, Bennie Lombard se ma het altyd vir ons die vis gebak en sy was die magistraat se vrou. Ons was te bang. (Jannie en ek en Bennie) om vir haar te lieg oor waar die visse vandaan kom.

Ewenwel, op ’n nat, modderige Caledon-middag stap ek oor na Jannie toe. Hulle het langs James Hall wat later getrou het met juffrou Steyn, wat ’n onderwyseres en ’n perderuitster was, gebly. Ek kom by Jannie aan en vra wat hy doen. Hy doen niks. Sy ma (en dit grief my dat ek haar naam nie kan onthou nie) vra of ek al geëet het.

“Dankie Antie Bessie, ek is al klaar,” sê ek. (Ek noem haar maar Antie Bessie want vaagweg wil ek die naam tóg in herinnering roep). Ek en Jannie is buitekamer toe want hy wil my sy nuutste draadkar wys. Dis nog lank nie klaar nie maar ek sien al die vorm – ’n Lincoln Continental, nes daai groen een wat op die dorp loop. Jannie is goed, beter as ek as dit by draadkarre kom. Ek kan net sulke vierkantige bokskarre bou maar Jannie kan die rondings van die modderskerms en dak uit baaldraad toor. Ek kan darem ’n “suspension” bou! Antie Bessie roep “Jannie, Errol, kom gou hier”. Jannie maak die buitekamer se deur toe en ons stap met ons kaalvoete deur die modder kombuis toe. Antie Bessie leun oor die onderdeur en hou twee blikborde in haar hande, ’n oranje bord en ’n blou bord.

“Ek ken julle seuns, jul’s alewig honger,” en sy gee die borde aan. Op elke bord lê ’n vars bokkem en twee snye warm, oondgebakte brood met varkvet en appelkooskonfyt gesmeer, nie botter nie.

“Dankie ma, dankie Antie,” laat ek en Jannie so dieselfde tyd hoor. Jannie draai om en sê al wat ons nog nodig het, is suurlemoene en hy vat koers na die duiwehok. Dit was hulle almal se duiwehok. Daar was “fantails”, “tumblers”, vuurpote en ’n paar lemoenduifies en almal het sommer so half deurmekaar gebly. Ek wat nogal baie by Jannie gekom het, het nooit ’n “fanpoot” of ’n “lemoentail” onder die duiwe gewaar nie.

Dis so of hulle geweet het waar hulle grense lê. Ons klim op die duiwehok se dak en gaan sit onder die suurlemoenboom se takke wat bokant die hok hang. Die suurlemoene was geel met sulke dik skille en ons pluk vir ons elkeen een.

Ons begin afskil, sommer so met die vingers. Toe die ronde balletjie skywe en die skil van mekaar verwyder is, begin ons eet. Eers ’n reep bokkem, dan ’n skyfie suurlemoen, kou goed en dan ’n hap van die brood met die varkvet en konfyt.

Ons praat nie met mekaar nie, miskien kan ons nie of miskien wil ons nie, ek kan nie meer onthou nie. Al wat ek onthou is die duiwe in die hok onder ons stêrre.

Ons het nektar van bo-af en musiek van onder-af, ingeneem. En die lewe was mooi, rustig en vol vrede. Die koue modder in die agterplaas en die toegetrekte weer het nie bestaan nie.

Net twee mannetjies wat sielsgelukkig bo-op ’n duiwehok ’n koningsmaal nuttig. Op daardie oomblik was dit al wat saak gemaak het. Wonder wat van die duiwehok geword het. – 18 Oktober 1995

Kommentaar

Republikein 2025-10-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer