René Hugo
René Hugo

Is onderstebo soms ook bo?

Afrika is ’n land met unieke stories. Die legende van die kremetartboom is só ’n storie. Hierin word beweer dat die boom uit die hemel gegooi is en toe onderstebo – met sy wortels in die lug – op die aarde geland het.

Een van Afrika se inheemse volke vertel ’n soortgelyke kremetartboomstorie, met ’n plaaslike “kleur”: Die gode het glo aan elke dier ’n boom gegee om te plant. Die hiëna het toe die kremetartboom gekry. Maar weens die dier se nukkerige geaardheid was hy só vies vir dié lelike boom dat hy dit weggeskop het. Die arme boom het toe op sy kop geval en onderstebo begin groei om so ’n unieke boom te vorm!

Gelukkig het die kremetartboom baie meer as net wortels na bo: Hy dra pragtige blomme, vrugte wat spesiale voeding vir diere (en mense) is. En in droogtetye is die boom ’n bron van vloeistof. Weens sy besondere vorm het die kremetartboom ook al diens gedoen as ’n veilige hawe in storms, ’n huis, ’n poskantoor, ’n kerk en selfs ’n kroeg! G’n wonder hierdie unieke boom word “The Tree Of Life” genoem nie. Dit voel vir my asof hierdie beeld so mooi inpas by Namibië se 2025-jaar wat nou amper verby is. . .

Baie dinge was wel wortels-boontoe-onderstebo. Daar was toenemende berigte van georganiseerde misdaad: Karkapings, toeriste wat geteiken word, veediefstal en georganiseerde bankmisdade wat veral bejaardes van hul laaste ou geldjies beroof het. En dan moes ons ook in Februarie afskeid neem van een van die bekendste Namibiese figure: Oudpresident Sam Nujoma.

Die kremetart is darem nie net ’n ondersteboplant nie. Die boom is waarskynlik een van die oudste bome ter wêreld. Die heel grotes word gereken as ongeveer 1 000 jaar oud!

Ten spyte van hulle hoë ouderdom, vertoon hulle nuwe groeiwyses. So het Namibië ook in 2025 vernuwing ervaar. Dink maar aan die vooruitsigte wat ons (nuwe) president Netumbo Nandi-Ndaitwah beplan. Haar planne is verseker deur Namibië se 2025-reënjaar ondersteun. Ons is ’n woestynland wat die jaar met ’n ernstige droogte begin het. Die mielieproduksie het met 51,8% gedaal en landelike inwoners het hongersnood gevrees. Maar toe kom die besondere 2025-reënseisoen en vernuwing is landswyd ervaar. Hierdie groei is verder ondersteun deur berigte van olie aan die kuslyn. En ons finale vernuwing is sekerlik beleef die dag toe die laaste teerlagies op die langverwagte Hage Geingob-hoofweg gelê is! Net soos die kremetart het 2025 vir Namibië nuwe groei gebring.

Die kremetartboom het ’n spesiale vrug wat vreugde vir mens en dier verskaf. So het 2025 vir alle Namibiers op 11 Oktober 2025 wonderbaarlike kos (en drank) gegee. Ons vreugdevure het lank gebrand om die vierpaaltjie-krieketoorwinning teen Suid-Afrika se span te vier!

’n Besondere kenmerk van die kremetartboom is dat sy bas, wat voortdurend gestroop word, homself kan herstel. Geen ander boom kan nuwe bas groei waar ou bas afgeskuur is nie. Dieselfde weerbaarheid en herstel is kenmerkend van ons renosterbewaringsprogramme. Ons het lank gesukkel, en baie bas is afgeskuur, om ons renosters te beskerm. Renosterstropingsyfers van vorige jare toon groot verliese: In 2015 – 97 en in 2024 – 81. Vanjaar egter, is tot dusver slegs 37 renosters gestroop – dalk is ons nou besig om onsself te herstel?!

Wat veral spesiaal van die kremetartboom is, is dat hy “menslike” kenmerke het. Die blare van die kremetart is handvormig: ’n Oop hand met vyf vingers. So is Namibië se mense – van altyd af tot nou in 2025. Ons is mense met ’n oop hand vir familie, vriende en vreemdelinge.

Mag die Namibiese kremetart voortgaan en gedy in die jaar wat kom.

– Gasskrywer

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-03-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer