Is jou binneste so mooi versorg soos jou buitekant?
Ek het dit al so bemeester om aanmekaar “reg” te lyk dat dit soms soos ’n voltydse werk voel.
My hare? Netjies, selfs al moes ek dit vyf keer kam. My gesig? Net genoeg grimering om natuurlik te lyk, maar ook net genoeg om die donker kringe weg te steek wat ek gekry het van té min slaap en té veel gedagtes. My klere? Saamgestel met presies die regte balans tussen “ek het my lewe onder beheer” en “ek is net gemaklik genoeg om nie bedreigend te lyk nie.”
Dis ’n kuns, en ek is beide die kunstenaar én die kunswerk. En tog, as ek eerlik is, voel dit soms of ek ook net die museumwag is, wat elke dag toesien dat niks skeef of onvolmaak is nie.
Ek leef met hierdie ongeskrewe reël in my kop: Moenie ooit wys as jy sukkel nie. Dis nie omdat ek glo ek móét nie sukkel nie, maar omdat ek bang is vir die vrae, die kykies, die ongemak wat volg as jy sê: “Weet jy wat? Ek’s nie fine nie.”
Dis makliker om te sê: “Nee man, alles is oukei,” as om die stilte te vul nadat jy erken het jy is moeg van alles, selfs van jouself.
Maar die waarheid? Ek raak soms bang ek vergeet hoe dit voel om heeltemal eg te wees. Om te lag sonder om te dink of my tande mooi op die foto lyk. Om te huil sonder om eers na ’n badkamer te soek waar niemand my sal sien nie. Om iemand reguit in die oë te kyk en te sê: “Ek is nie oukei nie.”
Die wêreld is mal oor mense wat saam kan staan. Ons word geprys as ons sterk is, as ons die moeilike goed stil-stil dra. Maar weet jy wat? Dis nie krag as jy jou hart stilmaak net sodat ander nie ongemaklik is nie. Dis net nog ’n masker.
Ek dink baie mense leef so, blink aan die buitekant, hol aan die binnekant. Ons maak seker almal om ons glo ons het alles onder beheer, maar in die stilte, wanneer die dag klaar is, voel ons soos ’n huis waarvan net die voorkant nog regop staan.
Binne is daar stowwerige kamers wat lanklaas oopgemaak is, deure wat toegeslaan is omdat ons bang is vir wat ons daar sal vind.
Ek het begin wonder, hoekom is dit so belangrik vir my om aan ander te wys ek is perfek, as ek self weet ek is nie? Hoekom gee ek soveel aandag aan my uiterlike beeld, terwyl ek nie dieselfde tyd en aandag aan my binneste gee nie? Dis soos om pragtige geskenkpapier om ’n leë boks te vou.
Die ironie is, ek weet hoe gevaarlik dit is. Ek het dit al by ander gesien: Die mooi foto’s, die flitsende glimlagte, die energie wat net genoeg is om deur die dag te kom, totdat dit nie meer genoeg is nie. Tot die innerlike stem te hard begin roep.
Miskien skryf ek dit vandag vir myself. Miskien vir jou: Om te sê daar is niks verkeerd daarmee om mooi te lyk nie, maar dit is verkeerd as jy vergeet hoe om goed te voel. Want jy kan jouself net so lank aan die buitekant poleer voor die binnekant krake begin wys, en glo my, dié krake sal eendag wys.
Ons moet leer om dieselfde tyd en aandag aan ons harte én hare te gee.
– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie