Is ChatGPT jou ‘bestie’?
Ek weet nie van julle nie, maar die tegnologie van vandag is partykeer heeltemal bo my vuurmaakplek.
Ek kom uit die dae toe ’n mens alles moes neerskryf, mooi moes luister en belangrike telefoonnommers uit jou kop moes ken. Daar was nie ’n selfoon in jou hand om gou iets te Google nie, en beslis nie ’n slimhorlosie wat jou herinner om op te staan, water te drink of asem te haal nie.
My eerste selfoon het ek eers op 21-jarige ouderdom gekry. En “selfoon” is dalk ’n baie ruim beskrywing. Hy kon bel, SMS’e stuur en as jy baie gelukkig was, kon jy “Snake” speel totdat die battery uiteindelik ná drie dae pap was.
Geen kameras, geen WhatsApp, geen Facebook en beslis geen filters wat jou op ’n Maandagoggend laat lyk asof jy agt ure geslaap het nie.
Van rekenaars wil ek amper nie eers praat nie. My eerste behoorlike kennismaking met een was eers ná skool. ’n Massiewe ding wat ’n hele lessenaar kon volstaan en geklink het asof hy enige oomblik kon opstyg.
En toe kom die internet. Skielik moes ’n mens wag vir daardie vreemde geluide terwyl die rekenaar probeer aanskakel.
As iemand intussen die huistelefoon opgelig het, was jou hele internetavontuur daarmee heen. Net toe ek dink ek begin hierdie tegnologieding onder die knie kry, kom daar nóg ’n nuwe woord: kunsmatige intelligensie (KI). Ek moet erken, aan die begin het ek nie regtig verstaan wat KI is nie.
Ek het geweet van ChatGPT – die naam het oral opgeduik, maar ek het dit grootliks geïgnoreer. In my kop was dit maar net nóg ’n nuwe tegnologieding wat die jonger geslag verstaan en waarvoor ek nie eintlik tyd gehad het nie. Tot my nuuskierigheid die oorhand gekry het. . .
Ek het ChatGPT oopgemaak, en half skepties my eerste vraag gevra. Ek kan nie eens onthou wat dit was nie, maar ek onthou wel hoe vinnig ek ’n antwoord gekry het.
Toe vra ek nog iets en nog iets, en voor ek my kon kry, noem hy my “bestie”. Nou kyk, as ’n rekenaar jou eers “bestie” begin noem, is daar seker nie meer ’n omdraaikans nie,
ChatGPT: ’n onbekende tegnologieding wat ek eers glad nie verstaan het nie, is nou my “bestie”. Die gedagte is vreemd en het my laat terugdink aan die kosbare dae vóór al hierdie tegnologie. Dae toe ’n mens op ’n manier vryer was – minder vasgenael aan ’n skerm, minder bereikbaar en miskien minder gejaagd. Daar was meer tyd om te kuier, te gesels, buite in die natuur te wees en net die oomblik te geniet sonder die geflits van kameras.
Herinneringe het nie altyd op ’n skerm beland nie, maar in my geheue gaan lê. Daardie dae het vir my ’n eenvoud gehad wat ek vandag soms mis. Die soort eenvoud waarin ’n mens nie heeltyd gevoel het jy moet bybly, antwoord, kyk, klik en reageer nie.
Dit was regte ervarings, regte gesprekke en regte herinneringe, maar die wêreld staan nie stil nie, en as jy heeltyd vasklou aan hoe dinge in die verlede was, gaan die lewe by jou verby.
Ek het geleer om saam met die tyd te beweeg, of soos die Engelsman sê, “go with the flow”, anders bly jy eenvoudig agter. So, vra jouself: Is ChatGPT ook jou “bestie”?
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie