Hou links, gaan regs verby
Daar is sekere reëls in die lewe wat eintlik nie neergeskryf hoef te word nie.
Jy staan nie voor iemand in ’n ry in die winkel en besluit sommer jy is nou eerste nie. Jy neem nie die laaste stuk koek sonder om ten minste te vra of iemand anders dit wil hê nie. En jy parkeer nie skuins oor twee parkeerplekke nie, tensy jy doelbewus probeer om die gemeenskap se bloeddruk te verhoog.
Nog so ’n eenvoudige reël is: Hou links, gaan regs verby.
Motoriste ken dit goed. Op die oop pad hou die stadiger verkeer links en die vinniger verkeer gaan regs verby. Dit werk. Dit voorkom ongelukke. Dit voorkom frustrasie. En die meeste mense verstaan dit.
Waarom werk dit dan nie as jy draf nie?
Ek hou daarvan om langs die see te gaan draf. Dis een van die lekkerste dele van die dag. Die vars lug, die uitsig en die geleentheid om vir ’n rukkie weg te kom van skerms, nuus en mense wat vir jou WhatsApps stuur met die woorde: “Net ’n vinnig een. . .”
Die promenade is boonop goed ontwerp. Daar is ’n baan vir fietsryers en ’n baan vir voetgangers en drawwers. Die fietsryers bly meestal aan hul kant. Die stappers bly meestal aan hul kant. As jy per ongeluk in die fietsbaan beland, sal een van die ernstige fietsryers in sy blink sonbril en stywe lycra-uitrusting jou vinnig laat verstaan dat jy ’n ernstige fout begaan het.
Tot daar werk alles mooi.
Maar dan kom die voetganger- en drafgedeelte.
Ek is nie die vinnigste hardloper nie. Daarom hou ek links. As iemand vinniger is, kan hy regs verbygaan. Wanneer ek iemand wil verbysteek, gaan ek regs verby en beweeg daarna weer terug na links. Dit voel vir my soos gewone gesonde verstand.
Dan sien jy iemand van voor af aankom.
Ek links. Hy links.
Ek hou koers. Hy hou koers.
Die afstand raak korter. Nog korter.
Nou begin die speletjie.
Wie gaan eerste beweeg?
Dis soos twee bokke op ’n nou bruggie. Of twee rugbyspelers wat nie die afrigter se wedstrydplan gehoor het nie.
Gewoonlik gee ek maar pad. Nie omdat ek verkeerd is nie, maar omdat ek nie lus is om my oggend met ’n kop-aan-kop-botsing af te skop nie. Dus beweeg ek regs en laat die ander persoon rustig voortstap asof niks gebeur het nie.
Nog erger is groepe mense. Veral die drie-“abreast”-brigade. Drie mense stap of draf langs mekaar en beset die hele wandelpad. Hulle hoef net effens in te beweeg. Ek moet egter om die hele formasie beweeg soos ’n motor wat ’n vragmotor op ’n bergpas probeer verbysteek. Teen die tyd dat ek verby is, voel dit asof ek ekstra kilometers gehardloop het waarvoor my sporthorlosie my nie krediet gee nie.
Dieselfde verskynsel kom by vierrigtingkruisings voor.
Die reël is eenvoudig. Die eerste voertuig wat stop, ry eerste. As twee voertuie gelyk stop, help ’n glimlag of ’n handgebaar gewoonlik om die saak op te los.
Maar dan kry jy daardie bestuurder wat nie eerste was nie, maar wegtrek asof die verkeerswet spesiaal vir hom geskryf is. En wanneer hy verbyry, kyk hy jou nog vies aan, asof jy die skuldige party is. Ek wonder soms of hierdie mense dalk toegang tot ’n geheime weergawe van die padreëls het wat die res van ons nooit ontvang het nie.
Die waarheid is dat beide die vierrigtingstop en die drafpaadjie op dieselfde beginsel werk: Respek vir ander mense.
As iemand eerste daar was, gee hom sy beurt. As jy uit die pad moet beweeg, doen dit. As jy kan help om die verkeer of die voetgangersverkeer gladder te laat vloei, doen dit.
Dit kos niks.
Miskien het ons nie meer reëls nodig nie. Miskien het ons net ’n bietjie meer hoflikheid nodig. Want die alternatief is eenvoudig. Ons kan mekaar respekteer, glimlag, ruimte maak en almal geniet die pad. Of ons kan aanhou om “chicken” te speel totdat iemand uiteindelik teen iemand anders vasloop.
En glo my, as ek die keuse het tussen goeie maniere en ’n kopstamp met iemand wat twee keer my grootte is, kies ek elke keer goeie maniere.
Hou links, gaan regs verby.
Dit werk op die pad. Dit behoort op die drafpaadjie ook te werk. – [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie