Hou boek vir die lewe
Ek sê maar net 30 jaar gelede
C.S. Lewis het gesê: “We read to know we’re not alone.”
Boeke is die vinnigste manier om uit vandag te ontvlug. Vat nou maar die immergroen liefdesroman of “lyfriller”. Die leser is eensaam en alleen, blokkiesraaisels verveel haar want sy ken nie so baie woorde nie, die BKJA het net getroude lede, haar wolhondjie is aan katgriep dood, “eenminuut-etes” vir haar mikrogolfoond verpak vir twee en haar dagboek is leeg. Dan kry sy Danielle Steel se nuutste liefdesaga in die hande. Met ’n koppie Cup-a-Soup en ’n beskuitjie is sy op bladsy drie reeds deel van die verhaal.
Sy word die lydende heldin en eendag, oor die tamatietoonbank van ’n groentewinkel, sien sy die mooiste blou oë waarin daar net soveel pyn as in hare is en sy wéét hulle is vir mekaar bedoel. Eers wil sy (die heldin), toe wil hy (die held) nie; toe wil hy en toe wil sy nie en toe wil hulle altwee en die storie het ’n gelukkige einde – twee mense deur pyn saamgesnoer wat lank en gelukkig in hul tweeverdiepingtuinhuis woon. Vir ’n wyle het die leser uit haar alleengesit ontsnap en was sy deel van alles wat sy nou mis.
Vir die manne is daar die jag- en motortydskrifte met blinknuwe vuurwaens en -wapens. Hy ry in ’n 4x4 met lugverkoeling en breë bande met ’n kookwater-geweer langs hom. Met een skoot fel hy die olifant neer en sy foto pryk later in die jagtydskrif met jagter en prooi en ’n vierwiel skuins in die agtergrond.
Die skryfster het al amper rondom die wêreld in tagtig dae gereis. Ek was al op ’n olifant se rug deur die Sahara-woestyn, het kaal geswem in Kenia se mooiste mere, met kamele deur Egipte gereis, by klein straatkafeetjies na die weemoedige gedraal van viole geluister, gesien hoe Van Gogh sy sonneblomme skilder, in markte in Istanboel oor pryse van bont stukke lap gekibbel, op ’n dolfyn se rug deur branders gebars, op ’n rots gesit en gekyk hoe sebravissies mekaar in koraalriwwe rondjaag, ek het ’n blom in my hare gehad en ’n klokbroek met waaierpype om my enkels en in Bob Dylan se oë gekyk toe hy duisende hippies toegesing het by Woodstok, ek het saam met Karen Blixen van “Out of Africa-faam” op haar groot kliphuis se stoep gesit en vars gemaalde koffie uit haar plantasies gedrink en geweet waarvan sy praat toe sy na my kyk en sê: I had a farm in Africa, ek was vooraan die tou in die vredestog, met ’n banier wat skree “stop die oorlog in Viëtnam”, ek was die verlore siel in Antjie Krog se melankolieke gedig oor een haar in liefde verlaat, ek het Amerika in ’n spierwit vragmotor deurkruis en so nou en dan oor die radio gesê: “Alleen stuur vanaand ’n boodskap aan almal wat sy ken”, ek was in die Kaap toe hy nog Hollands was en het met my vosperd gaan fisante jag en opgeboesem in hemelsblou fluweel by Jan van Riebeeck gaan tee drink, en ek was saam die Apollo I op die maan en het uitgekyk die donkertes in en gesê: “Dit is ’n klein stappie vir my, maar ’n grote vir julle.”
Liewe leser, gryp ’n boek of tydskrif en ontsnap na wêrelde ver, ver van hier en ’n tyd waarin die belastingbetaler nie bestaan nie en die bure se hond jou nie pla nie.
Die reis is absoluut gratis en hou die belofte in vir die tyd van jou lewe! – 24 Januarie 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie